Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse inflasieverwagtinge vir die volgende twee jaar neem af voor die beleidsvergadering
# ‘n Vakbond doen stappe oor die sluiting van die Departement Openbare Ondernemings
# En, rugby: Die Wallabies se nuwe kaptein verwag môre ‘n moeilike toets teen Wallis
# Suid-Afrikaanse inflasieverwagtinge vir die volgende twee jaar het afgeneem en dit help die sentrale bank se pogings voor sy beleidsvergadering. Volgens ‘n opname deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek sal die gemiddelde inflasieverwagtinge oor die volgende twee jaar van 5,2- tot 4,9-persent daal. Alle maatskaplike groepe het hul voorspellings vir die drie-jaar-horison verlaag. Die vyf-jaar-inflasievoorspelling het die eerste keer sedert die vierde kwartaal van 2021 tot onder vyf-persent gedaal. Ontleders verwag die sleutelrentekoers sal op 18 Julie op 8,25-persent gehou word, met toekomstige koersverlagings wat later vanjaar verwag word.
# Die vakbond Nehawu gaan die Staatsdiens se koördinerende bedingingsraad nader oor die oorplasing van werkers wat geraak word deur die sluiting van die Departement van Openbare Werke. Dit volg op president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die departement gaan sluit. Verskeie instellings, insluitend Eskom en Transnet, sal na verwagting na ander ministeries oorgeplaas word. Nehawu se woordvoerder, Lwazi Nkolonzi, het aan die SABC gesê werkers is baie bekommerd:
# Die ANC-Jeugliga in Gauteng het die regering van provinsiale eenheid gevra om 50-persent van senior poste aan die jeug toe te ken. Die sameroeper, Ntsako Mogobe, het die Gautengse jeug aangemoedig om deel te neem aan ‘n Julie-dialoog oor jeugontwikkeling, wat die belangrikheid van jeuginsluiting by besluitneming en ekonomiese verbetering beklemtoon. Hy het jongmense ook aangemoedig om die regering van provinsiale eenheid se bestendigheid te ondersteun en hulle tot verantwoording te roep:
# Die Britse staatshoof, koning Charles, het die leier van die Arbeidersparty, Keir Starmer, as eerste minister aangestel tydens ‘n oudiënsie in Buckingham-paleis. Die paleis het ‘n foto vrygestel waar die monarg blad skud met Starmer, wie se party ‘n verpletterende verkiesingsoorwinning behaal het. Die koning het vroeër die bedanking van die Konserwatiewe leier, Rishi Sunak, aanvaar. Volgens die paleis het die koning Starmer vandag ontmoet en gevra om ‘n nuwe regering te vorm.
# Rugby: Die nuwe kaptein van die Wallabies, Liam Wright, verwag môre ‘n moeilike toets teen Wallis in Sydney, met albei spanne onder groot druk. Australië het verlede jaar in Frankryk die eerste keer nie vir die Wêreldbeker-uitkloprondes gekwalifiseer nie, terwyl die Rooi Drake hulle laaste sewe wedstryde verloor het. Die nuwe afrigter, Joe Schmidt, het gister verras en die kapteinskap aan Wright toevertrou hoewel hy in 2020 die laaste van sy vyf toetse gespeel het. Wright sê hulle is ‘n opwindende span vol geesdrif onder die nuwelinge.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-229-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-375-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….