Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verenigde Nasies verklaar die aanhouding van twee Suid-Afrikaanse ingenieurs in Ekwatoriaal-Guinee onwettig
# Die Padvragvereniging versoek minister Creecy om nie-voldoening te ondersoek
# En, kanovaart: Maher en Lovemore is die paar om te klop in vanjaar se Bergrivier-marathon
# Die Verenigde Nasiese se Werkgroep oor Willekeurige Aanhouding beskou die aanhouding van twee Suid-Afrikaanse ingenieurs in Ekwatoriaal-Guinee as onwettig en eis hulle onmiddellike vrylating. Frik Potgieter en Peter Huxham word sedert Februarie verlede jaar aangehou op versinde aanklagte te midde van ‘n diplomatieke geskil oor die beslaglegging op bates van visepresident Teodore Nguema Obiang Mangue. Die families se woordvoerder, Francois Nigrini, versoek vinnige optrede om hulle vry te laat omdat hulle onskuldig is en die regte regstappe nie gevolg is nie:
# Die uitvoerende hoof van die Padvragvereniging, Gavin Kelly, versoek die nuwe minister van Vervoer, Barbara Creecy, om die kwessie van nie-voldoening in die vervoersektor aan te pak. Volgens Kelly is die vervoersektor by ‘n krisispunt ten opsigte van verskeie aspekte van vervoer, van vrag sowel as passasiers. Hy sê die bande met die globale mark is by so ‘n breekpunt wat dit onontbeerlik maak om ‘n soliede, verligte en positiewe leierskap te hê:
# Die Stad Tshwane gaan amptenare vervolg wat betrokke was by die mislukte Tribe One Dinokeng-musiekfees in 2014. Dit volg na ‘n ondersoek deur Daily Maverick en ‘n vertroulike verslag wat bevind dat geld verhaal moet word van amptenare wat deel was van onreëlmatige besteding op projekte en geleenthede ter waarde van miljoene rand. Die verslag is pas deur die raad goedgekeur en betrek die gewese burgemeester, Kgosientsho Ramokgopa, en ander amptenare by ‘n belegging van 60-miljoen-rand wat nie die beloofde ekonomiese voordele opgelewer het nie.
# Kanovaart: ‘n Groep relatief jong atlete gaan hierdie week aantree met die hoop om ‘n nuwe era van oorheersing te begin in die Bergrivier-marathon in die Wes-Kaap. Die twee roeiers wat uitstaan is verlede jaar se naaswenner, Jeremy Maher, en Thomas Lovemore wat derde was. Die veteraan Hank McGregor het verlede jaar sy 13de oorwinning beklink. In die vroue-wedloop staan Stephanie von der Heyde en Bianca Beavitt ‘n baie goeie kans. Die byeenkoms begin môreoggend in die Paarl en eindig Saterdag by Velddrift.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-842-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-18-sent per vat.
# En ten slotte: Dear South Africa doen ‘n beroep op die publiek om deel te neem aan die nuut vrygestelde Bioverskeidenheidsbestuursplan vir swart- en witrenosters. Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het die plan bekendgestel om renosterbevolkings teen stropery en habitatverlies te beskerm. Die plan sluit strategieë in vir volhoubare bewaring en gemeenskapsbemagtiging, noodsaaklik vir bioverskeidenheid en nasionale erfenis. Die organisasie se woordvoerder, Nolu Maki, sê openbare kommentaar word tot 18 Julie ingewin om die plan af te handel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….