Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Soektog is onderweg nadat ‘n plaasbestuurder naby Porterville in die Wes-Kaap vermoor is
# ‘n Organisasie waarsku oor toenemende plaaswerker-uitsettings en uitbuiting onder die nuwe minister van Landbou
# En, krieket: Indië klop die Protea-vroue met 10 paaltjies in die eenmalige toets
# Die Wes-Kaapse polisie het ‘n soektog begin na ‘n noodlottige rooftog op die plaas Tevrede naby Porterville. Volgens News24 het vyf gewapende mans die plaashuis binnegegaan en die plaasbestuurder doodgesteek. Hulle het die perseel geplunder en gevlug met vuurwapens, ammunisie en mobiele toestelle. Die slagoffer se vrou kon ongedeerd wegkom. Agri Wes-Kaap is ontsteld en vra verskerpte landelike veiligheid om plaasgemeenskappe te beskerm. Die polisie doen ‘n beroep op die publiek vir enige inligting wat hulle in staat kan stel om die moordenaars aan te keer.
Die Landelike en Plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie waarsku oor toenemende uitsettings en uitbuiting van plaaswerkers onder die nuutaangestelde minister van Landbou, John Steenhuisen. Die organisasie kritiseer die DA se swak verhouding met vakbonde en gebrek aan deernis vir plaaswerkers. Die uitvoerende direkteur, Billy Claasen, vra onmiddellike regerings-optrede om die regte van plaaswerkers te beskerm te midde van vrese van verwaarlosing en verhoogde kwesbaarheid onder die nuwe leierskap:
# Die George-munisipaliteit sê na die stadsraad se goedkeuring van die begroting in Mei, styg elektrisiteitstariewe van vandag af met 12,72-persent. Die woordvoerder van die Suid-Kaapse munisipaliteit, Chantel Edwards-Klose, sê hulle het voor die styging die nodige kostestudies gedoen en die Nasionale Energie-reguleerder het ook verlede week die vereiste goedkeuring uitgereik:
# Die familie van die Amerikaanse president, Joe Biden, versoek hom om nie te onttrek aan die verkiesingsveldtog nie. Skenkers bespreek glo die moontlikhede na sy rampspoedige vertoning in verlede week se eerste televisiedebat teen Donald Trump. Sy vrou, Jill, en seun, Hunter, hou albei vol hy moet in die wedloop bly aangesien hy in die beste posisie is om Trump te verslaan. Die res van die familie stem saam en glo sy raadgewers het hom nie behoorlik voorberei nie. Biden se veldtogbestuurders glo hy kan steeds die verkiesing in November wen.
# Krieket: Indië het die Protea Vroue met 10 paaltjies geklop in hulle eenmalige toets in Chennai. Die gasvroue het hulle eerste kolfbeurt gesluit op ‘n reuse 603 vir ses en daarna die besoekers laat opvolg nadat hulle uitgeboul is vir 266. In Suid-Afrika se tweede beurt het Laura Wolvaardt en Suné Luus albei honderdtalle aangeteken, maar die span kon slegs 373 bymekaarskraap. Indië het die teiken van 37 lopies behaal sonder om ‘n paaltjie te verloor. Die twee spanne speel nou in drie T20-wedstryde, wat Vrydag begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-657-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….