Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nersa kondig die goedkeuring van die 2024/2025-elektrisiteitstariewe aan
# Die EFF gaan appelleer teen die Landdroshof-uitspraak teen Marshall Dlamini
# En, tennis: Novak Djokovic is in die loting vir Wimbledon
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het die goedkeuring afgehandel van die tariewe van 178 gelisensieerde elektrisiteitsverspreiders vir die finansiële jaar 2024/2025. Hierdie tariewe raak munisipale en privaat verspreiders en word op die eerste van aanstaande maand van krag. Die woordvoerder van Nersa, Charles Hlibela, sê verspreiders het tariewe voorgelê wat gebaseer is op voorsieningskostestudies of volledige koste-uiteensettings, wat deursigtige en gereguleerde pryse regoor die land verseker:
# Die EFF beplan om teen die uitspraak van die Landdroshof in Kaapstad te appelleer in die saak teen sekretaris-generaal, Marshall Dlamini. Dlamini is ‘n opgeskorte vonnis van 18 maande opgelê asook ‘n boete van ses-duisend-rand omdat hy polisiebeampte, Johan Carstens, in 2019 in die Parlement aangerand het. Die woordvoerder van die EFF, Leigh-Ann Mathys, kritiseer die uitspraak as wraaksugtig en ‘n poging om die leierskap van die EFF te kriminaliseer. Volgens haar sal Dlamini sy parlementêre pligte voortsit terwyl die appèl hangende is:
# Die Valke, in vennootskap met privaat sekerheidsfirmas en Transnet, het aansienlike vordering gemaak om brandstofdiefstal te bekamp en kritieke infrastruktuur te beveilig. Vanaf Desember 2019 het hul gesamentlike operasies gelei tot 218 arrestasies wat gerig is op oortreders betrokke by die peuter aan noodsaaklike pypleidings. Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, sê pogings om noodsaaklike infrastruktuur te beskerm en om diegene wat betrokke is by brandstofdiefstalmisdade te vervolg, duur voort:
# En nuus uit die buiteland: Soedan ervaar die hoogste vlakke van akute voedselonsekerheid wat nog ooit deur die Geïntegreerde Voedselsekerheid-fase Klassifikasie-indeks aangeteken is. Die jongste verslag dui aan meer as 25-miljoen mense, meer as die helfte van die bevolking, staar hierdie krisis in die gesig. Daar is ‘n kans op hongersnood in 14 gebiede as die oorlog, wat in April verlede jaar begin het, vererger. Hierdie gebiede sluit in Khartoem, Darfoer, Kordofan en die staat El Gezira. Die Wêreldvoedselprogram het dit verklaar as die wêreld se grootste hongerkrisis.
# Tennis: Novak Djokovic speel wel op Wimbledon nadat hy vandag by die loting ingesluit is, ten spyte van vrae oor sy fiksheid nadat hy by die Franse Ope onttrek het. Die Serwiër speel teen kwalifiseerder, Vit Kopriva, van die Tsjeggiese Republiek. Wêreld nommer een, Jannik Sinner, speel eerste teen die 32-jarige Duitser, Yannick Hanfmann. Derde gekeurde, Carlos Alcaraz, speel in die eerste ronde teen ‘n kwalifiseerder, Mark Lajal, van Estland. Lloyd Harris van Suid-Afrika meet kragte teen die 19-jarige Amerikaner, Alex Michelsen, nommer 62 op die wêreldranglys. Die toernooi begin Maandag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-238-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-337-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….