Nuus 17:00
BULLETIN 14 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra vir minder afhanklikheid van ingevoerde medisyne
# Die NSFAS-administrateur se aanstelling word deur die Hooggeregshof opgeskort
# En, ‘n ontvoerde Amerikaanse sendeling in Niger word na nege maande vrygelaat
# President Cyril Ramaphosa sê Afrika moet sy afhanklikheid van ingevoerde medisyne verminder en sy eie farmaseutiese produkte, entstowwe, terapeutiese middels en beskermingstoerusting vervaardig. Gedurende ‘n openbare lesing tydens SAOG Visie 2050 in Durban, het Ramaphosa gesê die Covid-19-pandemie het die vasteland se kwesbaarheid blootgelê toe lande gesukkel het om entstowwe en persoonlike beskermingstoerusting te bekom. Hy sê die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se gesamentlike verkrygingsmeganisme kan marksekerheid skep, beleggings lok en vervaardiging versnel:
# Advokaat Drushantha Ramsamy van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie het aan die Madlanga-kommissie gesê die geskorste Nasionale Polisiekommissaris Fannie Masemola is blykbaar geteiken in ondersoeke rondom die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala. Ramsamy sê daar was geen bewyse wat Masemola met Matlala verbind nie, maar ondersoekbeamptes is opdrag gegee om elektroniese toestelle te deursoek vir skakels na sy dogter. Sy sê dit het kommer laat ontstaan dat reëls oortree is om Masemola te teiken, ten spyte van samewerking met ondersoekbeamptes:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die aanstelling van Hlengani Mathebula as administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente opgeskort, hangende die finalisering van ‘n aansoek wat sy aanstelling betwis. Sewe voormalige NSFAS-raadslede het die aansoek voorgelê en vper aan dit lyk of daar bybedoelings was met die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, se besluit om die raad te ontbind en ‘n administrateur aan te stel. Mathebula is op 4 Mei aagestel, dieselfde dag wat die raad ontbind is Manamela is gelas om die koste van die twee advokate te betaal.
# ‘n Amerikaanse sendeling is vrygelaat nadat hy nege maande in Niger gevange gehou is. Volgens die Christelike organisasie, SIM International, is hy in goeie gesondheid. Kevin Rideout is in Oktober verlede jaar voor sy huis in die hoofstad Niamey deur drie onbekende mans ontvoer. Die New York Times, wat eerste oor sy vrylating berig het, sê Rideout is in die FBI se sorg en volgens foto’s gaan dit goed met hom. Dit is nog nie bekend wanneer of hoe hy vrygelaat is, of wie hom aangehou het nie. Hy sal na verwagting binnekort met sy gesin herenig word.
# Tennis: Alexandra Eala het groot belangstelling in die sport in haar tuisland, die Filippyne, veroorsaak, nadat haar plek op die wêreldranglys verbeter het. Die 21-jarige is tans in die 20ste plek na ‘n uitstekende seisoen tot dusver, insluitend om die vierde ronde van Wimbledon te bereik en die eerste Filippynse speler wat ‘n WTA-toervlak-enkelspeltitel verower het verlede maand by die DC Ope in Washington. Die Filippyne het skynbaar minder as ‘n duisend tennisbane, meestal gebou met ‘n mengsel van gebreekte seeskulpe, sand en klei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-615-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-376-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 89-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….