Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Dieseltenkwa slaan op die N3 in Durban aan die brand en ontplof
# Die Nasionale Vergadering sal eers in Januarie oor die verwydering van twee regters stem
# En, rugby: Die Blitsbokke is gretig om verlede seisoen agter hulle te sit
# Niemand is beseer nie toe ‘n dieseltenkwa op die N3-hoofweg in Durban ontplof het. Die bestuurder het stilgehou en weggehardloop toe die vragmotor aan die brand slaan. Dik pluime rook het uit die tenkwa geborrel voor dit ontplof het. Een baan van die dubbelpad is geraak, maar is ʼn paar uur later weer oopgestel. ʼn Woordvoerder van die Padverkeersinligtingsentrum, Sindi KaNgidi Msimang, sê die oorsaak van die ongeluk word ondersoek. Sy maan pendelaars om op hulle hoede te wees in die omgewing.
# Die Nasionale Vergadering sal weens ‘n gebrek aan ‘n geskikte lokaal, eers in Januarie stem oor die verwydering van twee regters, John Hlophe en Nkola Motata. ’n Spesiale sitting sal belê word om oor die saak te besluit. Motata is ‘n afgetrede regter van die Gautengse Hooggeregshof wat skuldig bevind is aan dronkbestuur. Die regterpresident van die Wes-Kaap is geskors omdat hy twee regters van die Konstitusionele Hof wou beïnvloed in ‘n saak teen oudpresident Jacob Zuma. Die Regterlike Dienskommissie het albei aan growwe wangedrag skuldig bevind.
# Die DA in Johannesburg versoek die raadslid, Loyiso Masuku, en die stadsbestuurder, Floyd Brink, om in skaamte te bedank oor hul rol in die onreëlmatige herleiding van fondse sodat 2,6-miljoen-rand betaal kan word vir ‘n partytjie vir 500 werknemers. Die DA-lid, Nicole Rahn, sê daar is in die media berig geld van reistoelae is herlei om vir die geleentheid te betaal:
# Die Israeliese polisie sê die twee aanvallers in die dodelike skietery vanoggend by ʼn bushalte in Jerusalem, is afkomstig van ʼn buurt aan die oostekant van die stad. Drie mense is dood en talle beseer voordat soldate wat van diens was en ʼn burgerlike, die broers doodgeskiet het. Hulle word beskryf as lede van Hamas wat voorheen tronkstraf uitgedien het vir terreurbedrywighede. Hulle is uitgeken as Murad en Ibrahim Namr. Volgens The Times of Israel is sekerheidsmaatreëls na die voorval verskerp, met inbegrip van patrollies en padblokkades.
# Rugby: Die Springbok Sewes-span is in die Verenigde Arabiese Emirate vir die naweek se Dubaise Sewes waarmee die nuwe seisoen afskop. Die Blitsbokke het ʼn goeie prestasierekord in Dubai en kan passievolle ondersteuning verwag, maar hulle gaan niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Die ervare voorspeler, Impi Visser, sê hulle is gretig om die teleurstellende veldtog van die vorige seisoen agter hulle te plaas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-824-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-40-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….