Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA waarsku Ramaphosa om by die kabinetsooreenkoms te hou of dit gaan ineenstort
# Die Automobiel-Assosiasie verwag ‘n brandstof-prysverlaging in Julie
# En, rugby: ‘n Voormalige Wallabies-afrigter is op pad na Leicester
# Die DA het ‘n ultimatum aan president Cyril Ramaphosa gestel en eis hy moet hom by die oorspronklike kabinetsaanbod hou of die gevaar loop dat hulle ooreenkoms ineen kan stort. Volgens News24 het Ramaphosa sy aanvanklike aanbod verander en die sleutelportefeulje van Handel, Nywerheid en Mededinging met Toerisme vervang, wat die DA woedend gemaak het. Die party dring aan op die oorspronklike voorwaardes en waarsku hulle sal geen verdere toegewings aangaan nie. Hulle hou vol hul aanvaarding was finaal en die party sal nie heronderhandel nie.
.
# Die Automobiel-Assosiasie verwag aansienlike prysverlagings volgende maand gebaseer op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds. Die pryse van petrol kan teen ongeveer een-rand-per-liter daal terwyl die pryse van diesel en lampolie onderskeidelik teen ongeveer 20-sent-per-liter en 25-sent-per-liter kan daal. Woordvoerder, Eleanor Mavimbela, wys daarop dit is die tweede agtereenvolgende maandelikse daling en sal verbruikers en die ekonomie bevoordeel:
# Absa se Korporatiewe-en-beleggingsbankdienste het aangekondig hy sal geen nuwe steenkoolaangedrewe projekte befonds nie. Msizi Khoza van die bank sê hulle ondersteun eerder die befondsing van ‘n gebalanseerde energiemengsel, insluitend projekte wat daarop gemik is om bestaande steenkoolaangedrewe aanlegte meer doeltreffend en omgewingsvriendelik te maak. Khoza het beklemtoon hierdie benadering strook met hul verbintenis tot volhoubaarheid:
# Die bevelvoerder van die leër in Bolivia, generaal Juan José Zúniga, is in hegtenis geneem na ‘n gepoogde staatsgreep gister in die Suid-Amerikaanse land. Sky News berig gewapende Boliviaanse magte het die hoofplein in die land se hoofstad oorgeneem en ‘n gepantserde voertuig het die ingang na die presidensiële paleis platgery. Op TV is gewys daar is twee tenks en ‘n aantal soldate voor die regeringspaleis in La Paz. President Luis Arce het gewaarsku ‘n “onreëlmatige” ontplooiing van troepe het plaasgevind. Dit is onseker waarvan die generaal aangekla sal word.
# Rugby: Michael Cheika, wat Australië in 2015 tot die Wêreldbeker-eindstryd gevoer het en Argentinië tot by die halfeindstryd in 2023, is as afrigter van die Engelse Premierliga-span, Leicester, aangewys. Dit beteken die Australiër gaan saam met die Springbok-losskakel, Handré Pollard, werk asook die twee losvoorspelers van die Bulle, Hanro Liebenberg en Corné Beets. Die charismatiese, uitgesproke 57-jarige Australiër vervang landgenoot, Dan McKellar, aan die stuur van die tweemalige Europese kampioene.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-627-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-323-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….