Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK gaan verwikkelings dophou in kommissaris Nomsa Masuku se saak
# ‘n Unie beskuldig Grindrod Logistics van die vervanging van afgedankte werkers met arbeidsmakelaars
# En, rugby: Willie le Roux is uit, maar Kurt-Lee Arendse is terug vir die Bulle
# Die Verkiesingskommissie sê dit gaan verwikkelings fyn dophou in die saak van kommissaris, Nomsa Masuku, wat van bedrog en korrupsie aangekla word. Die Handelsmisdaadhof by Pine Ridge in Gauteng het haar borgtog van 20-duisend-rand toegestaan na haar arrestasie vroeër vandag. Volgens die OVK hou dit verband met haar vroeëre betrekking by Standardbank en het geen verband met haar termyn by die kommissie nie, hetsy as werknemer of kommissaris. Masuku het na bewering beurse aan vriende en familie toegestaan en het agteraf betalings ontvang ter waarde van 1,2-miljoen-rand.
# Die Tirisano Transport and Services Union het begin met stakings by Grindrod Logistics, nadat meer as 85 werknemers aflegging in die gesig staar. Die vakbond beskuldig die onderneming van die onbillike afgedanking van permanente personeel om hul te vervang met arbeidsmakelaars wat minder betaal word om koste te besnoei. Die woordvoerder, Gcobisa Kelembe, betwis die geldigheid van die afleggings en eis die heraanstelling van werknemers wat geraak is en veroordeel die afdankings te midde van die hoë werkloosheidsyfer:
# Die Stad Kaapstad het die Departement van Openbare Werke se uitsettingsaansoek vir onwettige plakkers rondom die Kasteel de Goede Hoop in die middestad verwelkom. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die noodsaaklikheid beklemtoon om die gebied te herstel vir toerisme en openbare veiligheid. Hy sê hierdie stap vorm deel van pogings om openbare ruimtes te bestuur en haweloses by te staan:
# Die dodetal in die jongste voorval van besmette alkohol in die suidelike staat Tamil Nadu in Indië het tot 47 gestyg. Sowat 150 mense wat aan braking, maagkrampe en diarree gely het, moes behandel word nadat hulle ‘n metanol-mengsel gedrink het wat in die Kallakurichi-distrik gemaak is. Minstens 118 mense word nog in hospitale behandel. Die polisie het vier mense gearresteer vir onwettige alkoholverkope en beslag gelê op 200 liter van die drank. Die staat het tugstappe gedoen teen tien beamptes omdat hulle dit nie voorkom het nie.
# Rugby: Die Bulle het die dienste verloor van die spelskeppende heelagter, Willie le Roux, vir môre se eindwedstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap, maar die opwindende vleuel, Kurt-Lee Arendse, is weer op sy pos in die opdrafspan. Devon Williams skuif van vleuel na heelagter. Johan Goosen begin weer op losskakel met Chris Smith op die bank. Akker van der Merwe en Nizaam Carr is twee van die impakspelers op die bank. Afskoptyd op Loftus Versveld in Pretoria is more om ses-namiddag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-735-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-362-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….