Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-lid Reagen Allen word verkies tot adjunkspeaker van die Wes-Kaapse wetgewer
# Die EFF verwelkom die AU se teregwysing van Fitch
# En, die Olimpiese Spele: Lionel Messi gaan nie vir Argentinië sokker speel op die Paryse Spele nie
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, is verkies tot adjunkspeaker van die provinsiale wetgewer. Hy het 26 stemme gekry teenoor die ANC-lid, Nobulumko Degracia Nkondlo, se 12. Allen sal dien as adjunk van die verkose speaker, Daylin Mitchell. Allen het die wetgewer in die eerste sitting van die sewende provinsiale parlement toegespreek en beloof om te verseker die wetgewer word tot verantwoording geroep en toe te sien die Grondwet word gehandhaaf:
# Die EFF sê hy verwelkom die Afrika-unie se Portuurbeoordelingsmeganisme vir sy teregwysing van die graderingsagentskap, Fitch. Die AU-meganisme sê hy beskou Fitch se pogings om Suid-Afrika se politiek te manipuleer deur aan te beveel dat die ANC en DA ‘n koalisieregering vorm, as onvanpas. Die EFF sê Fitch en ander Westers-gebaseerde graderingsagentskappe meng lankal in by die land se politiek om uitkomste ten gunste van die kapitaal- en finansiële markte te swaai.
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, sê ‘n nuwe bedeling is nodig om die water- en sanitasiesektor behoorlik te bestuur, die land na nuwe hoogtes te voer en watersekerheid vir toekomstige geslagte te verseker. Mchunu sê die huidige stand van water- en sanitasiedienste is ‘n uitdaging vir die regering en sy vennote om die situasie om te keer met hoë standaarde vir die sektor:
# Olimpiese Spele: Die Argentynse sokkerlegende, Lionel Messi, gaan nie sy land op die Spele in Parys verteenwoordig nie en sê hy is te oud om in elke toernooi te speel. Die 36-jarige sê dit gaan hom ook ‘n paar maande van sy Amerikaanse klub, Inter Miami, wegneem, omdat hy van volgende week af vir sy land in die Copa America-toernooi speel. Messi, wat in 2008 vir Argentinië goud help verower het op die Spele in Beijing, sê hy moet oordeelkundig kies en kan nie in twee toernooie na mekaar speel nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-922-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-80-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Eskom het ‘n veldtog begin wat kliënte versoek om hul kragverbruik te verminder en onwettige bedrywighede aan te meld. Dit volg op die vervanging van meer as 400 transformators wat sedert Januarie weens netwerk-oorlading beskadig is. Woordvoerder Aubrey Sambo waarsku teen ‘n groter vraag na elektrisiteit namate temperature daal. Sambo sê aandag sal gegee word aan netwerk-oorladingskwessies wat veroorsaak word deur elektrisiteitsdiefstal weens onwettige verbindings, toerustingdiefstal, opsetlike beskadiging, peutery, ongemagtigde bedrywighede en die aankoop van elektrisiteit van onwettige verkopers:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….