Nuus 17:00
BULLETIN 13 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula vra die korrupsie-aanklagte teen haar moet teruggetrek word
# Iran sê daar is geen vordering gemaak om die tussentydse vredesplan met Amerika te laat herleef nie
# En sokker, Banyana Banyana is gereed vir die maak-of-breek Wêreldbeker-uitspeelstryd teen Nigerië
# Die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gaan vra dat die korrupsie-aanklagte teen haar teruggetrek word. Sy staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery nadat sy na bewering omkoopgeld aanvaar het terwyl sy minister van Verdediging was. Mapisa-Nqakula ontken enige oortredings. Die Hooggeregshof in Pretoria het die saak tot volgende Donderdag uitgestel terwyl die verdediging wag op die transkripsies van minstens 16 getuies se getuienis. Indien die aansoek slaag, sal Mapisa-Nqakula vrygespreek word sonder om te getuig of getuies te roep.
# Statistiek Suid-Afrika sê vervaardigings-produksie het in Junie met 1,7-persent gedaal in vergelyking met dieselfde maand verlede jaar. Die afname is hoofsaaklik aangevuur deur swakker produksie in voedsel en drank, hout- en papierprodukte en motorvoertuie. Produksie het sedert Mei effens gestyg. Nicolai Claassen van Statistiek SA sê vervaardigingsverkope het in Junie met 1,6-persent gedaal, hoewel verkope tussen April en Junie met 0,6-persent gestyg het:
# Forum for South Africa vra dringende regeringsingryping nadat die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, ‘n geraamde tekort van 15-miljard-rand aan die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente by universiteite en kolleges aangekondig het. Die forum se woordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê kwalifiserende studente moet nie toegang tot onderwys geweier word weens finansiële of bestuursmislukkings nie. Hy eis groter deursigtigheid, sterker finansiële toesig en ‘n hersiening van die studente-finansieringsmodel:
# Iran en Amerika bly koppe stamp oor pogings om oorlog in die Golf permanent te beëindig. ‘n Senior Iranse bron het aan Reuters gesê daar was geen vordering in gesprekke om Junie se tussentydse ooreenkoms te laat herleef of met pogings om ‘n tydsraamwerk vir inwerkingstelling te bepaal nie. Dit volg nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, Iran se leiers weereens gekritiseer het. Die Persiese Golfstraat-owerheid, wat Iran gevestig het om die waterweg te bestuur, sê dit bly versper totdat Iran se voorwaardes aanvaar is.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê hulle sal alles moet uithaal in vanaand se wedstryd teen hulle aartsvyand, Nigerië, in Marokko. Die wenner sal deurdring na FIFA se Tussenkonfederasie-uitspeelwedstryde en is steeds in tel vir ‘n plek in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Brasilië. Albei kon nie daarin slaag om die halfeindronde van die Afrikabekertoernooi te haal nie, wat outomatiese kwalifisering sou gewaarborg het. Ellis verwag ‘n moeilike wedstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-636-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-393-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 89-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….