Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF is gekant teen ‘n regering van nasionale eenheid
# Ramaphosa stel Maropene Ramokgopa aan as waarnemende minister van Sport
# En, rugby: ‘n Oud-Ierse toetsspeler bevraagteken Leinster se geestelike krag
# Die EFF verwerp die vorming van ‘n regering van nasionale eenheid en sê dit vermy duidelike agendas om die nalatenskap van kolonialisme en apartheid ongedaan te maak. Hulle is gekant teen alliansies met partye wat wit belange verteenwoordig, en benadruk die EFF se verbintenis tot kwessies soos grondhervorming en gratis onderwys. Adjunkpresident Floyd Shivambu het aan die media gesê die party is ten gunste van ‘n doelgerigte regering om die land se uitdagings te takel, en sal nie uit desperaatheid deel wees van koalisies nie:
# President Cyril Ramaphosa het minister Maropene Ramokgopa aangestel as waarnemende minister van Sport, Kuns en Kultuur. Sy is tans minister in die Presidensie belas met Beplanning, Monitering en Evaluering. Ramokgopa vervang Zizi Kodwa, wat dié week bedank het na sy hofverskyning op aanklag van korrupsie. Woordvoerder Vincent Magwenya sê Ramokgopa sal waarneem tot ‘n permanente aanstelling gedoen word in die nuwe sewende administrasie:
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se sakereddingspraktisyns het die uitbetalingsproses bespoedig vir die eerste deel van die skeidingspakkette vir werknemers wat afgelê is. In plaas van die tydlyn vir einde Junie, waarop reeds vroeër ooreengekom is, begin die uitbetalings reeds volgende week. Hierdie stap sluit ‘n volledige betaling van die Werkloosheidsversekeringsfonds in, asook ‘n dividend van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Dit is daarop gemik om die finansiële las van die betrokke personeellede te verlig. Betalings vir deel twee en drie is vir September en November geskeduleer.
# Rugby: Die voormalige Ierse toetsspeler Stephen Ferris glo Leinster sal môre onder druk wees wanneer hulle te staan kom teen hulle landgenote Ulster in die kwarteindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Leinster, met oud-Springbok-afrigter Jacques Nienaber as sy senior afrigter, het die afgelope drie jaar geen bekers gewen nie en verlede maand in die eindstryd van die Kampioenebeker teen Toulouse verloor. Hulle het ook dié seisoen twee keer teen Ulster vasgeval, en Ferris twyfel of hulle die geestelike krag het om eindstryde te wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-307-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-82-sent per vat.
# Ten slotte: BroadReach Health Development sê as Suid-Afrika in sy leeftyd die verspreiding van MIV wil stop, moet hy fokus op die voorkoming van en gebrekkige versorging onder babas en jongmense. Statistieke van die Verenigde Nasies toon 77-persent nuwe besmettings onder jongmense in Afrika suid van die Sahara was in 2022 onder tienermeisies en jong vroue. ‘n Woordvoerder van BroadReach Health Development, Ziyanda Makaba, sê meer moet gedoen word om jongmense by klinieke te laat toets en antiretrovirale medisyne aan hulle beskikbaar te stel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….