Nuus 17:00
BULLETIN 5 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se uitreikpogings na die MK-party is vrugteloos
# Drie regeringsdepartemente word gevra om ondoeltreffendheid teen te werk in geslagsgeweldsake
# En, padwedlope: Korrektiewe Dienste het 271 atlete in die Comrades
# Die ANC glo die verkiesingsuitslag wys Suid-Afrikaners wil hê leiers moet saamwerk. Die party wil graag met alle partye skakel vir ‘n regering met eenheid, bestendigheid, transformasie en die beskerming van die demokrasie. Die ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri sê die nasionale werkskomitee hersien verslae oor vergaderings met die IVP, die EFF, die DA en die Patriotic Alliance. Bhengu-Motsiri bevestig hulle het sonder sukses uitgereik na die MK-party:
# Die openbare beskermer het drie regeringsdepartemente gevra om ondoeltreffenheid teen te werk in die stryd teen geslagsgeweld. Kholeka Gcaleka kritiseer die Departemente van Justisie, Maatskaplike Ontwikkeling en die Polisie vir hulle ondoeltreffende programme. Gcaleka se verslag volg op ‘n ondersoek na 38 Landdroshowe landwyd, wat regerings-ondoeltreffendheid in die hantering van geslagsgeweld uitgewys het:
# Die Grensbestuursowerheid sê 25 reisigers is onderskep en gedeporteer deur immigrasie-amptenare op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kemptonpark, nadat hulle Suid-Afrika onwettig probeer binnekom het. Die woordvoerder Mmemme Mogotsi sê 13 Bangladesji’s en drie Pakistani’s het vals besoekersvisums gehad, terwyl ‘n Bangladesji, ‘n Nigeriër, drie Pakistani’s en vier Ghanese nie aan binnekomsvereistes voldoen het nie:
# Eerste minister Benjamin Netanyahu sê Israel is voorbereid op ‘n intensiewe operasie aan die grens met Libanon, waar Israelse soldate betrokke is by byna daaglikse gevegte met Hizbollah-vegters. Skietgevegte tussen Israel en die Irans-gesteunde bondgenoot van Hamas het die afgelope week vererger, met herhaalde Israelse aanvalle diep binne Libanese grondgebied. Netanyahu se verregse koalisie-vennote, die minister van Nasionale Sekerheid, Itamar Ben Gvir, en die minister van Finansies, Bezalel Smotrich, het albei die afgelope paar dae gevra vir dringende optrede om sekerheid te herstel in die noorde.
# Padwedlope: Die Departement van Korrektiewe Dienste het 271 personeellede wat gaan deelneem aan Sondag se Comrades Marathon in KwaZulu-Natal. Die department se atlete is bekend vir hulle uithouvermoë en prestasies op die roete en hoop om hulle talent ten toon te stel op die roete van 85,91-kilometer tussen Durban en Pietermaritzburg. Top-atlete soos Mbusiseni Yaka en Ziphindile Dlamini wil hulle persoonlike beste tye verbeter. Altesaam 20-duisend-600 drawwers van regoor die wêreld het ingeskryf vir die 97ste uitgawe van Afrika se rykste marathon.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-89-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….