Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ace Magashule beweer die OVK het gekul met die verkiesing
# Die PAC sê die ANC is die grootste verkiesingslagoffer
# En, krieket: Die Australiese kaptein Mitchell Marsh is fiks verklaar vir die T20 Wêreldbeker
# Die leier van die African Congress for Transformation, Ace Magashule, beweer die Verkiesingskommissie het gekul met die verkiesing. Magashule se nuut-geregistreerde party was op die streek- en provinsiale stembriewe, maar het nie aan die vereistes voldoen vir die Nasionale Vergadering nie. Met byna 99-persent van die Vrystaat wat getel is, het ACT tans net meer as 15-duisend stemme. Magashule sê daar is baie onreëlmatighede wat hulle kan bewys:
# Die Pan Africanist Congress of Azania meen die ANC is die grootste slagoffer van die verkiesing. Teen die agtergrond van partye wat voorberei vir koalisiegesprekke, sê die adjunkpresident van die PAC, Victor Serakalala, spanning tussen partye is duidelik waarneembaar. Hy beklemtoon Suid-Afrika maak geskiedenis namate koalisie-ooreenkomste vir die sewende Parlement bespreek word op grond van goeie bestuur en beleidsrigtings:
Die ANC loop steeds voor op nasionale vlak terwyl die Verkiesingskommissie byna al die uitslae afgehandel het. Voorlopige uitslae toon die ANC het 40,21-persent, gevolg deur die DA met 21,79-persent en die MK-party met 14,61-persent. In KwaZulu-Natal loop MK voor met 45,35-persent, gevolg deur die IVP met 18,06-persent en die ANC met 16,99-persent. In Gauteng het die ANC 34,78-persent, gevolg deur die DA op 27,53-persent en die EFF met 12,9-persent. Die DA behou sy meerderheid in die Wes-Kaap met 55,26-persent, gevolg deur die ANC met 19,57-persent en die Patriotic Alliance met 7,81-persent van die stemme.
# Hamas oorweeg ‘n skietstilstand-voorstel deur die Amerikaanse president, Joe Biden, positief. Dit het die hoop laat opvlam vir die beëindiging van Israel se agt maande lange oorlog, waarin meer as 36-duisend Palestyne in Gaza dood is. Biden beskryf die nuwe Israelse voorstel vir ‘n skietstilstand as “‘n padkaart na ‘n permanente skietstilstand en die vrylating van alle gyselaars” en voeg by “die tyd het aangebreek om die oorlog te beëindig”. Aljazeera berig die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, dring desondanks aan op die totale vernietiging van Hamas
# En laastens krieket: Die kaptein van Australië, Mitchell Marsh, is fiks verklaar vir hulle openingswedstryd op 6 Junie by die T20 Wêreldbeker, maar hy sal nie boul nie. Die veelsydige speler het einde April met ‘n dyspierbesering teruggekeer huis toe van die Indiese Premierliga en het eers vandeesweek sy terugkeer gemaak in twee oefenwedstryde in Trinidad. Hy het nie in enigeen van die wedstryde vir ‘n volle beurt veldwerk gedoen nie en dis onduidelik wanneer hy weer sal kan boul.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….