Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sal enige koalisiemoontlikheid oorweeg na die verkiesing
# Owerhede in Irak stel agt mense tereg vir bande met die Islamitiese Staat
# En, rugby: Ben-Jason Dixon speel sy 50ste wedstryd vir die Stormers teen die Leeus
# Die leier van die DA, John Steenhuisen, sal verskeie moontlikhede vir koalisies oorweeg. Hy sê die DA wil eerstens met die partye in die Veelpartyhandves beraadslaag, maar hy sluit nie ander samewerking uit nie. Steenhuisen het vertroue in die mededingende posisie van die DA in sleutel-strydpunte soos Gauteng en KwaZulu-Natal. Hy sê finale besluite sal geneem word sodra al die stemme getel is, om voorkeur te gee aan die belange van landsburgers om ‘n haalbare toekoms te verseker:
Voorlopige uitslae van die Verkiesingskommissie toon die ANC was ‘n rukkie gelede voor met 41,78-persent nadat 68,86-persent van die stemdistrikte verwerk is. Die DA was op 22,57-persent met die MK-party op 12,16-persent. Die EFF en die IVP is onder die top vyf nasionaal, met onderskeidelik 9,5- en 3,09-persent.
Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing se opname, in samewerking met die Verkiesingskommissie, toon intussen sterk kiesersvertroue in vanjaar se verkiesingsintegriteit. ‘n Verstommende 95-persent van die deelnemers het vertroue in die verkiesing uitgespreek. Die meeste kiesers, naamlik 84-persent, het die gedrag van verkiesingsbeamptes geloof en beskryf hulle hoofsaaklik as behulpsaam. Die raad se navorsingsdirekteur, Benjamin Roberts, sê die algehele kieserstevredenheid weerspieël ‘n sterk openbare vertroue in die kiesstelsel:
# Owerhede in Irak het agt mense tereggestel wat aan terrorisme skuldig bevind is weens bande met die Islamitiese Staat. ‘n Veiligheidsbron het aan AFP gesê die agt was lede van die Islamitiese Staat, en is by die Al-Hut-gevangenis in die stad Nasiriyah tereggestel. Volgens Irakese wette is terrorisme en moord strafbaar met die dood en teregstellingsverklarings moet deur die president onderteken word.
# Rugby: Die flank Ben-Jason Dixon maak sy 50ste verskyning vir die Stormers in môre se Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting met die Leeus in Kaapstad. Daar is ‘n splinternuwe voorry, met die stutte Neethling Fouché en Sti Sithole en die haker André-Hugo Venter. Wandisile Simelane is op buitesenter om die beseerde Damian Willemse in die agterlyn te vervang. Sacha Feinberg-Mngomezulu vervang Warrick Gelant op heelagter. Die Stormers sluit die seisoen af met ‘n Suid-Afrikaanse derby op hul tuisveld, en skop om 1:45 af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-655-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-354-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus…….