Nuus 17:00
BULLETIN 30 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Rentekoerse bly onveranderd
# Die WNNR se vooruitskattings oor die verkiesing lei tot ‘n swak rand en stygende staatseffekte
# En, rugby: Die Melbourne Rebels is na 14 seisoene uit Super Rugby Pacific
# Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het besluit om die terugkoopkoers onveranderd te hou op 8,25-persent. Meer hieroor in ons volgende bulletin.
# Die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing se skattings oor die verkiesing het gelei tot ‘n swakker rand en stygende opbrengste in staatseffekte. Dit volg nadat die WNNR voorspel het die ANC sal 42-persent van die stemme wen. Die WNNR sê hierdie vooruitskattings kan markte ontwrig en beleggers afskrik.
Die Verkiesingskommissie berig intussen ‘n ongekende aantal verkiesingsvoorvalle het in die Oos-Kaap voorgekom. Talle stemlokale het lang vertragings ondervind, met meer as 30 wat weens diensleweringsbetogings laat oopgemaak het. Ondanks die uitdagings kon die OVK bevestig goeie vordering word met die verwerking van die uitslae gemaak. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê die vertragings raak nie die telproses nie:
En voorlopige uitslae van die Verkiesingskommissie toon die ANC was ‘n rukkie gelede voor met 43,47-persent. Die DA was op 24,68-persent met die EFF op 8,88-persent. Die MK-party en die Patriotic Alliance is onder die top vyf nasionaal, met onderskeidelik 8,1- en 4,05-persent.
# Amerika is gekant teen ‘n resolusie van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies wat ‘n onmiddelike skietstilstand in Gaza eis, asook ‘n einde aan Israel se militêre optrede in Rafah. Hy sê dit is nie van veel hulp nie. Algerië, wat Arabiese lande verteenwoordig, het die voorstel opgestel na noodsamesprekings oor Israel se optrede. Die konsep-resolusie eis die opening van alle grensoorgange en humanitêre toegang tot Gaza. Amerika se adjunk-ambassadeur, Robert Wood, sê gevegte moet eers opgeskort word:
# Rugby: Die Melbourne Rebels is uit die Super Rugby Pacific-kompetisie geskop nadat Rugby Australië ‘n ooreenkoms vir die sukkelende span verwerp het. Dit beteken die span se deelname aan die kompetisie sal na 14 seisoene eindig. Die Rebels is in 2011 gestig toe die kompetisie uitgebrei is na 15 spanne, maar is in Januarie vanjaar onder administrasie geplaas weens skuld van 283-miljoen-rand. Die nasionale beheerliggaam het die span vanjaar jaar befonds, toe hulle die heel eerste keer die uitklopronde bereik het.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-253-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-341-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….