Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Korrektiewe Dienste word gekritiseer omdat gevangenes nie die nodige dokumente het om te kan stem nie
# AfriForum kap die Appèlhof-uitspraak oor Kill the Boer
# En, krieket: ‘n Voormalige Australiese toetskolwer wil Italië help om vir 2026 se T20-Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer
# ‘n Aktivis vir die regte van gevangenes, Lerato Manaka, het die Departement van Korrektiewe Dienste gekritiseer omdat daar nie seker gemaak is gevangenes beskik oor nodige dokumente om môre te stem nie. Die departement het aangevoer 14-duisend-753 gevangenes is geregistreer, maar volgens Manaka het net 20-persent van stemgeregtigde Suid-Afrikaanse gevangenes ‘n identiteitsdokument, waarsonder hulle nie sal kan stem nie. Manaka benadruk die demokratiese reg van gevangenes om te stem en die belangrikheid van toegang van veldtogte by korrektiewe sentrums.
# AfriForum veroordeel die uitspraak van die Appèlhof dat die Kill the Boer-dreunsang nie haatspraak is nie en sê dit plaas boere en Afrikaners in gevaar. Uitvoerende hoof, Kallie Kriel, kritiseer die uitspraak en beskryf dit as ‘n bevooroordeelde mening van waarnemende regter Raylene Keightley. Kriel sê indien die howe nie hierdie groepe beskerm nie sal hulle selfbeskerming moet vergroot met behulp van uitgebreide gemeenskapsveiligheidsnetwerke. Hy sê hulle oorweeg om die uitspraak na die Konstitusionele Hof te neem:
# Zimbabwe se voormalige opposisieleier, Nelson Chamisa, bepleit dialoog met president Emmerson Mnangagwa om die geskil oor verlede jaar se verkiesing op te los. Chamisa, wat vroeër vanjaar as leier van die Citizens Coalition for Change uitgetree het, het die huidige regeringstrukture as onwettig gekritiseer. Hy het in Harare gesê hy hoop op ingrypings van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en ander instellings op die vasteland om aandag te skenk aan die kwessie:
# Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies hou vandag ‘n noodvergadering in New York na Israel se lugaanval op Hamas in Rafah waarin tientalle mense dood is in ‘n kamp vir ontheemdes. Israelse beamptes glo skrapnel het ‘n brandstoftenk aan die brand laat slaan en die tente in vlamme gehul. Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, beskryf dit as ‘n tragiese fout en die Weermag ondersoek die burgerlike ongevalle. Die VN se menseregte-hoof, Volker Türk, sê die voorval bewys dis nêrens veilig in Gaza nie.
# Krieket: Die voormalige Australiese toetskolwer, Joe Burns, wil Italië help om vir 2026 se T20-Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer, ter ere van sy broer, Dominic, wat in Februarie oorlede is. Die 34-jarige het tussen 2014 en 2020 in 23 toetse vir die Baggy Green gespeel. Hy kwalifiseer deur sy ma se Italiaanse afkoms. Burns sê hy onthou sy grootouers se waagmoed om Italië te verlaat om ‘n nuwe lewe in Australië te begin. Italië het nog nooit voorheen gekwalifiseer vir ‘n Wêreldbekertoernooi in enige formaat nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-161-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-360-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….