Nuus 17:00
BULLETIN 27 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP kap die regering se skielike aankoop van die SAPREF-raffinadery
# Daar is voortgesette samewerking met die SOE om die studentefonds se kontrak- en werknemerkwessies te pak
# En, sokker: Alexander-Arnold hou vol Liverpool het ‘n goeie seisoen agter die rug
# Die IVP is woedend oor die Sentrale Energiefonds se skielike aankoop van die ru-olieraffinadery SAPREF in Durban van Shell en BP. Die party kritiseer die gebrek aan deursigtigheid en dink dit kan ‘n foefie wees om op die nippertjie stemme te werf. Narend Singh van die IVP lig omgewingskommer uit en sê gesondheidstudies het gewys op ‘n hoë kanker-risiko in nabygeleë gemeenskappe. Singh merk berigte op van ‘n aankoopprys van een rand, en sê dit wek kommer oor verskuilde koste vir belastingbetalers:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente werk saam met die Spesiale Ondersoekeenheid oor onreëlmatige kontrakte en wanoptrede deur werknemers. Dit volg op bevindings oor bedrog en wanadministrasie in die skema. Die skema het onderneem om die SOE se aanbevelings in te stel en tugstappe te doen teen werknemers wat betrek word om die integriteit van sy operasies te herstel. Die skema se administrateur, Freeman Nomvalo, sê die vennootskap wil aanspreeklikheid en deursigtigheid verseker om staatsfondse te beskerm:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement vorder goed met sy pogings om ‘n geskiedkundige chirurgiese agterstand uit die weg te ruim. Die woordvoerder, Motalatale Modiba, het aangekondig 37-duisend operasies is binne nege-maande met ‘n chirurgiese marathon-projek voltooi. Modiba sê veertien-duisend operasies is hierdie maand voltooi, wat die waglys tot 24-duisend verminder. Hy sê die departement maak gebruik van tegnologie en vennootskappe om chirurgiese vermoë en deursigtigheid te verbeter:
# Sokker: Die verdediger van Liverpool, Trent Alexander-Arnold, hou vol die span het ‘n goeie seisoen agter die rug ondanks ‘n pap einde aan afrigter Jurgen Klopp se laaste veldtog aan bewind op Anfield. Die span van Merseyside het in Februarie die Engelse Ligabeker gewen en was op koers vir ‘n ongeëwenaarde vier trofees. Liverpool het egter in die FA-beker teen hulle aartsvyand, Manchester United, verloor en daarna uitgeval in die Europaliga voor hulle in twee skadelike weke in April uitgesak het in die stryd om die Premierligatitel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-44 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-793-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-349-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte, Freedom Under Law het wyle regter Laurie Ackermann geloof vir sy bydraes tot die regstelsel. Ackermann, wat in 1994 in die Konstitusionele Hof aangestel is, was deurslaggewend in die bou van grondwetlikheid en die handhawing van die oppergesag van die wet. Hy het binne tien jaar hy 23 uitsprake geskryf, wat menswaardigheid as ‘n kern grondwetlike waarde beklemtoon. Die organisasie merk op Ackermann se toewyding aan die oppergesag van die wet stel ‘n blywende voorbeeld vir toekomstige regspraktisyns en regters.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….