Nuus 17:00
BULLETIN 23 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof beveel die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om vinnig welsynsorganisasies te betaal
# Die DA eis die vrystelling van misdaadstatistieke voor die verkiesing
# En, rugby: Jasper Wiese sal die Bokke se volgende ses toetse misloop na ‘n rooikaart in sy laaste wedstryd vir Leicester
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling opdrag gegee om vinnig organisasies sonder winsoogmerk te betaal. Die Gauteng Care Crisis Committee het die hof dringend genader vir ‘n bevel om te verseker die departement handel die proses af wat maatskaplike dienste verskaf aan kwesbare mense. Die organisasie beskryf die proses as chaoties. Regter Ingrid Opperman het beslis die departement moet teen môre sy befondsingsbeoordelings afhandel en diensleweringsooreenkomste teen volgende Donderdag aan suksesvolle aansoekers uitreik.
# Die DA het die minister van Polisie, Bheki Cele, beskuldig van die verpolitisering van misdaadstatistieke deur die bekendmaking voor die verkiesing uit te stel. Daar was ‘n geskeduleerde bekendmaking verlede week, maar die misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van 2023/’24 word eenvoudig nie bekendgemaak nie. Die party beloof om deursigtigheid en aanspreeklikheid in misdaadverslaggewing te verseker. Andrew Whitield van die DA sê ‘n versoek is ingedien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om die data te bekom en die statistieke bekend te maak:
# Baie van die mense wat ernstig beseer is toe ‘n vlug van Londen na Singapoer ernstige turbulensie ondervind het, moet rugoperasies ondergaan. Die Boeing 777 het vinnig gedaal oor die Andamanse See en die vlieëniers moes ‘n noodlanding doen in Bangkok, Thailand. Die 73-jarige Geoff Kitchen van Gloucestershire in Brittanje het aan ‘n vermeende hartaanval beswyk. ‘n Woordvoerder van die hospitaal sê 20 mense is nog in die waakeenheid, talle met rugbeserings. Altesaam 104 mense is in die hospitaal in Thailand behandel.
# Rugby: Die losvoorspeler Jasper Wiese sal die Springbokke se volgende ses toetse misloop na sy rooikaart in sy laaste wedstryd vir Leicester Tigers verlede naweek. Die tugkomitee kon nie enige versagtende omstandighede vind nadat hy ‘n speler van Exeter opgelig en in die grond ingeboor het nie. Wiese sal die Bokke se toetse teen Wallis, Ierland, Portugal en die Wallabies misloop. Die nuus word beskou as ‘n groot terugslag vir afrigter Rassie Erasmus, wat Wiese beskou as die veteraan-agsteman Duane Vermeulen se natuurlike opvolger.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-309-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-368-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-73-sent per vat.
# En, president Cyril Ramaphosa het regter Yvonne Mokgoro as ‘n ikoon en kampvegter van menseregte en geslagsgeregtigheid beskryf. Ramaphosa het aan roubeklaers in die Bryanston Katolieke Kerk in Johannesburg gesê Mokgoro was ‘n baanbreker regsgeleerde en die eerste swart vrou wat in 1994 in die Konstitusionele Hof aangestel is. Ramaphosa sê haar reis van studente-aktivis tot gewaardeerde regter simboliseer veerkragtigheid en beginselvaste aktivisme. Hy eer haar nalatenskap as ‘n bewys van haar onwrikbare verbintenis tot geregtigheid en gelykheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….