Nuus 17:00
BULLETIN 22 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sesde Parlement het amptelik gesluit
# AfriForum kritiseer Motshekga se uitspraak oor moedertaalonderrig as ‘n verkiesingsfoefie
# En, tennis: Djokovic slaan af in Genève net vier dae voor die Franse Ope
# Die sesde Parlement het amptelik gesluit, vyf jaar sedert die lede ingehuldig is. Die Parlement sal in beheer bly tot die vooraand van die verkiesing volgende week. ‘n Parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê lede sal vir dringende vergaderings geroep word indien nodig. Die termyn is gekenmerk deur belangrike gebeurtenisse, insluitend die Covid-19-pandemie, ‘n vernietigende brand en staat van beskuldigings. Die voormalige speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het net voor haar verwagte aftrede bedank om haar teen aanklagte van korrupsie van meer as twee-miljoen-rand te verdedig. Die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, is ook verwyder.
# AfriForum het die minister van Basiese Ondewys, Angie Motshekga, se onlangse steun vir moedertaalonderwys en Afrikaanse skole as verkiesingstaktiek afgemaak. Dit het gekom te midde van teenstand teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette. Alana Bailey van AfriForum beweer die ANC wil Afrikaanse skole ondermyn deur swak administrasie en politieke maneuvers. Sy sê AfriForum berei voor vir regsoptrede as president Cyril Ramaphosa die BELA-wetsontwerp onderteken:
# Rusland het ses kinders wat weens die konflik in Oekraïne ontwortel is, aan hul gesinne terugbesorg ingevolge ‘n ooreenkoms wat Katar bemiddel het. Oekraïne glo Rusland het meer as 19-duisend van sy kinders onwettig geneem sedert die begin van sy aanvalle in 2022. Minder as as 400 is terugbesorg. Rusland se staatsbeheerde nuusagentskap berig die kinders, ‘n groep seuns van ses- tot 17-jaar-oud wat twee broers insluit, is tydens ‘n geleentheid by die Katari-ambassade in Moskou met hul gesinne herenig.
# Tennis: Die Geneefse Ope in Switserland is die laaste kleibaan-opwarmingstoernooi voor die Franse Ope Sondag begin. Die tweede gekeurde Casper Ruud van Noorweë is vandag in aksie teen die ongekeurde Oostenryker Sebastian Ofner. Die topgekeurde Novak Djokovic se aanslag begin ook vandag teen die Duitser Yannick Hanfmann. Djokovic het nog nie vanjaar ‘n toernooi gewen nie, maar Ruud sê die Serwiër is die gunsteling in Genève:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-837-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-410-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-21-sent per vat.
# En, ‘n enkele veer van die uitgestorwe Nieu-Seelandse huia-voël het ‘n wêreldrekord opgestel toe dit op ‘n veiling verkoop is vir net meer as ‘n half-miljoen-rand. Daar is aanvanklik beraam die veer sou tot 55-duisend-rand haal, maar dit het die vorige rekord met 450-persent oortref, wat vir ‘n veer van dieselfde spesie was. Die huia was heilig vir die Māori’s en is beskou as ‘n statussimbool. Stamhoofde en hulle families het dikwels die vere in hulle hooftooisels gedra. Die laaste keer dat ‘n huia amptelik opgemerk is, was in 1907.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….