Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Aktivis sê die ANC het ineengestort omdat hy weggebreek het van sy bevrydingsbeweging-karakter
# Die ACT-leier Ace Magashule ontken onttrekking aan die verkiesing
# En, tennis: Die Franse Ope se enkelspel-kampioene kry tjeks van 47,3-miljoen-rand elk
# ‘n Politieke aktivis, Raymond Suttner, glo die ANC se ineenstorting is te wyte aan die party wat wegbreek van sy bevrydingsbewegings-karakter. Hy het in ‘n rubriek gesê die ANC, eens ‘n bevrydingsbeweging met ‘n beduidende gewilde grondslag, is omskep in ‘n doodgewone politieke party en het afstand gedoen van sy voetsoolvlak. Suttner sê die regerende party is deur Westerse raadgewers beïnvloed, en daarom verskuif na ‘n model wat voorkeur gee aan modernisering en normalisering, wat lei tot ‘n gaping tussen die leierskap en die mense:
Die leier van die African Congress for Transformation, Ace Magashule, het intussen bewerings verwerp dat sy party nie aan die algemene en provinsiale verkiesing gaan deelneem nie. Magashule het wel die Verkiesingskommissie se aanlyn benoemingstelsel in die hof uitgedaag, maar tydens die bekendstelling van die party se manifes in Sebokeng bevestig die ACT sal in verskeie provinsies meeding. Dit sluit die Vrystaat in, waar hulle vol vertroue is om te wen. Magashule sê die party is bereid om met eendersdenkende koalisies saam te werk:
# Adjunkhoofregter Mandisa Maya sê sy het meer selfvertroue as ooit tevore vir die rol as hoofregter. Die enigste kandidaat word ondervra deur die Regterlike Dienskommissie. Maya is van mening die elf regters in die Konstitusionele Hof moet tot 15 vermeerder word. Sy vra grondwetlike wysigings om kleiner panele van regters toe te laat. Maya erken die posisie van hoofregter is veeleisend, maar glo sy is geskik vir die pos:
# China het by Amerika beswaar aangeteken omdat die minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, die selfregerende Taiwan geluk gewens het na die inhuldiging van die nuwe president, Lai Ching-te. Lai is gister ingehuldig, maar Beijing het hom voorheen reeds as ‘n gevaarlike separatis gebrandmerk. Blinken het in sy gelukwensing gesê hy sien daarna uit dat Washington en Taipei vrede en bestendigheid in die ganse Straat van Taiwan handhaaf. Volgens Beijing is sy boodskap ‘n ernstige skending van die beginsel van Een China en stuur die verkeerde boodskap aan separatistiese magte.
# Tennis: Die algehele prysgeld vir vanjaar se Franse Ope is 1,05-miljard-rand – ‘n styging van 7,8-persent teenoor verlede jaar. Die mans- en vrouekampioen sal elk 47,3-miljoen-rand ontvang. Selfs spelers wat in die eerste ronde op Roland Garros uitgeskakel word, gaan nie met leë hande huis toe nie en sal elk 1,4-miljoen-rand ontvang. Die kwalifiseringstoernooi vind tans in Parys plaas terwyl die hoofloting Sondag begin. Die wenners word die naweek van 8 en 9 Junie op die Philippe Chatrier-baan gekroon. Die keurings en wedstrydbepalings word later dié week aangekondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-996-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-428-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….