Nuus 17:00
BULLETIN 20 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum se verslag toon daar was byna een plaasmoord per week in 2023
# President Ramaphosa weerlê aansprake die NGV beteken die einde van privaat gesondheidsorg
# En, boks: Usyk kan sy onbestrede swaargewigkampioentitel binne twee weke verloor
# AfriForum se jaarlikse verslag oor plaasaanvalle en -moorde toon 49 plaasmoorde in 296 aanvalle in 2023. Die hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, sê dit is sowat een moord per week. Broodryk kritiseer die regering en die polisie vir hulle dubbele standaarde met die voorkoming van, en ondersoek na dié misdade. Hy vra die regering vir ‘n spesiale ministeriële taakspan vir plaasmoorde:
# President Cyril Ramaphosa weerlê aansprake die Nasionale Geondheidsversekering beteken die einde van privaat gesondheidsorg. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief die NGV steun op die sterkpunte van beide die staats- en privaat sektore vir ‘n verenigde gesondheidsorgstelsel van gehalte vir alle Suid-Afrikaners. Die president sê die NGV kan die finansiële las van armes en die middelklas verlig, terwyl dit volhoubare gesondheidsorg vir die land verseker. Hy vra samewerking tussen die staats- en privaatsektore vir universele gesondheidsdekking.
# KwaZulu-Natal se regering beplan om die land se grootste energie-opwekkingsterrein in die Richardsbaaise Nywerheidsontwikkelingsone te vestig. Die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake, Sibuniso Duma, het aan ‘n afvaardiging van die privaat en openbare energiesektor gesê dit sal bydra tot nuwe kragopwekkings-vermoë. Hy sê die aanleg sal fokus op hernubare energie, energiedoeltreffendheid, sonkragtegnologie, windturbines en energiebergings-komponente:
# Die Internasionale Strafhof doen aansoek om lasbriewe vir die inhegtenisneming van die leier van Hamas, Yahya Sinwar, en die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, vir beweerde oorlogsmisdade in Gaza. Die hof se hoofaanklaer, Karim Khan, het dit onthul in ‘n eksklusiewe onderhoud met CNN. Die aanklagte teen Netanyahu sluit in die veroorsaking van uitwissing met die doelbewuste teikening van burgerlikes in ‘n konflik. Sinwar word aangekla van uitwissing, moord, gyselaarneming, verkragting en seksuele aanranding in aanhouding. ‘n Paneel regters van die hof sal nou Khan se aansoek oorweeg.
# Boks: Oleksandr Usyk het Tyson Fury geklop en die eerste onbestrede wêreldswaargewigkampioen in 25 jaar geword. ‘n Herontmoeting volg later vanjaar, maar waarskynlik nie om al vier gordels nie. Die Internasionale Boksfederasie wil Usyk sy gordel ontneem as hy nie volgende teen sy verpligte teenstander, Filip Hrgovic, veg nie. Usyk se heerskappy kan dalk net twee weke duur, maar die Oekraïner wil nie nou aan boks dink nie:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-en-17-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-419-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….