Nuus 17:00
BULLETIN 24 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# DA wil hê die name van die Lotto-bodkomitee moet verstrek word
# Ramaphosa verwelkom BMW X3 se inprop elektriese motorproduksie in Suid-Afrika
# En krieket: ‘n Vroue-toets gaan die eerste keer op Lord’s gespeel word
# Die DA gaan ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting vra dat die name bekend gemaak moet word van amptenare wat betrokke was by die toekenning van die vierde nasionale loterylisensie. Dit volg op kommer oor ‘n moontlike skakel met adjunkpresident Paul Mashatile se familie. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, wou nie die name aan die Parlement gee nie. Toby Chance van die DA sê Tau moet voor die Parlement verskyn om rekenskap te gee oor sy hantering van die lisensie van 60-miljard-rand:
Die EFF-parlementslid, Sihle Lonzi, het intussen die nuutaangestelde minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, gewaarsku hy moet kies of hy die kaders van die korrupte ANC en Kommunistiese Party gaan dien of homself by Suid-Afrikaners gaan skaar. Lonzi het Manamela gedurende die begrotingsdebat aangemoedig om studente-skuld te beveg, NSFAS skoon te maak, SETA-korrupsie te beëindig en die TVET-sektor op te hef:
# President Cyril Ramaphosa sê die bekendstelling van die nuwe BMW X3 inprop hibriede motor op die Rosslyn-aanleg in Pretoria is ‘n belangrike mylpaal vir Suid-Afrika se oorgangstrategie na groen-energie en nywerheidsontwikkeling. Ramaphosa het in sy toespraak BMW geloof vir sy voortgesette belegging, insluitend sy pogings met vaardigheidsopleiding en indiensneming van die jeug. Hy sê die oorgang na elektriese voertuie ondersteun die regering se doelwit van ‘n lae-koolstof ekonomie en plaaslike waardetoevoeging van noodsaaklike minerale:
# Die staat het sy saak gesluit in die Senzo Mchunu-moordverhoor in die Hooggeregshof in Pretoria. Dis byna elf-jaar nadat die gewese sokkerkaptein en doelwagter van Bafana Bafana en Orlando Pirates doodgeskiet is in sy vriendin, Kelly Khumalo, se huis in Vosloorus, Gauteng. Die staat het die afgelope drie jaar getuienis voorgelê teen die vyf beskuldigdes en nou sy saak afgehandel. Regter Ratha Mokgoatlheng het die verhoor in Julie 2023 oorgeneem van regter Tshifhiwa Maumela. Die verdediging sal nou sy saak stel en getuies roep.
# Krieket: Lord’s gaan volgende jaar die eerste keer ‘n vrouetoets aanbied wanneer Engeland teen Indië speel op die veld in Londen. Die Engelse en Walliese Krieketraad het die datum vir die geskiedkundige kragmeting aangekondig as deel van 2026 se tuisskedule vir mans- en vrouespanne. Engeland se vroue het in 2023 hulle laaste tuistoets gespeel toe hulle op Trent Bridge teen Australië verloor het. Die wedstryd is oor vyf dae gespeel. Die wedstryd teen Indië sal die gewone vroue-formaat van vier dae volg, en op 10 Julie begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-761-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-356-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….