Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK vra die Konstitusionele Hof om die besluit oor Zuma te versnel weens die komende verkiesing
# Die Wes-Kaapse regering sê die identifikasieproses is die sleutelfokus in die ramp in George
# En, padwedlope: Deelnemers maak gereed vir die Run Your City-wedloop in Kaapstad
# Die Verkiesingskommissie vra die Konstitusionele Hof om dringend uitspraak te lewer oor die leier van die MK-party, Jacob Zuma, se geskiktheid om in die Parlement te dien, en wys daarop die verkiesing is om die draai. Die OVK waarsku oor ‘n moontlike geskil oor die uitslae as Zuma ondanks diskwalifisering sou staan, wat die grondwetlike orde kan ondermyn. Die OVK se regsverteenwoordiger, Tembeka Ngcukaitobi, betoog die Verkiesingshof het fouteer deur Zuma se kandidatuur te aanvaar, want die OVK is verplig om kandidate se geskiktheid vir die Nasionale Vergadering te bepaal:
# Die Wes-Kaapse regering sê die dood van 12 mense is bevestig na Maandag se ineenstorting van ‘n gebou in George, 40 is gered en 41 word nog vermis. Nog drie liggame is vanoggend gevind. Premier Alan Winde sê die identifikasieproses is ‘n sleutelfokus te midde van taal-uitdagings, maar dit sal uitgeklaar word met konsulêre verteenwoordigers. Winde het erken dit is ‘n ingewikkelde proses om slagoffers te identifiseer ondanks die toewysing van bronne:
# Behuisingsaktiviste in Kaapstad sê president Cyril Ramaphosa moet die Wet op die Beskikking oor Staatsgrond van 1961 gebruik om staatsgrond vir behuising beskikbaar te stel. Hulle het 12 bykomende aansoeke by die Departement van Openbare Werke ingedien sodat staatsgrond vir bekostigbare behuising vrygestel kan word. Die aktiviste het reeds 32 stukke grond in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap geïdentifiseer. Die Stad Kaapstad se geïntegreerde plan vir menslike nedersettings sê daar is ongeveer 360-duisend mense op die behuisingswaglys.
# Die senaat van Nigerië stel strenger maatreëls voor vir dwelmsmokkelary, met die doodstraf as die nuwe maksimum straf, in plaas van lewenslange gevangenisstraf. Die stap is daarop gemik om die land se oorgang as ‘n belangrike vervaardiger, verbruiker en verspreider van onwettige dwelms teen te werk, insluitende opioïede soos tramadol en hoesstroop met kodeïen. Hoewel sommige wetgewers besorg is oor die onomkeerbare aard van die doodstraf, moet die weergawes van die senaat en die huis versoen word voor dit by die president land.
# Padwedlope: Sommige van Afrika se elite atlete maak gereed om Sondag deel te neem aan die negende Run Your City-wedloop in Kaapstad. Suid-Afrika se tienkilometer-rekordhouer, Precious Mashele, Suid-Afrika se driemalige Olimpiese deelnemer Stephen Mokoka, en die Olimpiese atleet van Lesotho, Neheng Khatala, is onder die 12-duisend hardlopers wat die roete oor tien kilometer tussen Milnerton en die middestad sal aanpak. Die stad sê dié geleentheid het een van die land se gewildste padwedlope geword.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-939-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-367-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….