Nuus 17:00
BULLETIN 8 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê die 30-jaar-hersieningsverslag bevoordeel toekomstige regeringsbeplanning
# Werkers word aangemoedig om aftreevoordeel-berading te kry voordat die tweepotstelsel in werking tree
# En sokker: Brasilië oortref Duitsland, Nederland en België se gesamentlike bod vir 2027 se Vroue-Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa sê die 30-jaar-hersieningsverslag kyk nie net terug op die verlede nie, maar beskou ook die toekoms. Hy het tydens die bekendstelling in Pretoria gesê die verslag rig toekomstige regeringsbeplanning en wil die Nasionale Ontwikkelingsplan se visie teen 2030 verwesentlik. Ramaphosa sê die verslag dra by tot verbeterde beleids-instelling, en erken Suid-Afrika se hervorming en toewyding aan die opheffing van alle landsburgers oor die afgelope drie dekades:
# Werkende Suid-Afrikaners word versoek om professionele aftreevoordeel-berading te kry voordat die tweepotstelsel in werking tree. Die stelsel, wat vanaf 1 September Suid-Afrika se private aftreebedryf van 3,27-duisend-miljard rand ingrypend gaan verander, veroorsaak kommer oor verbruikersbegrip. ‘n Raadgewer van die maatskappy NMG Benefits, Natasha Huggett-Henchie, sê professionele leiding is deurslaggewend aangesien die stelsel uiteindelik korttermynlenings kan voorkom en aftree-uitkomste verbeter. Die stelsel het ten doel om aftreefondse te beveilig terwyl dit gedeeltelike toegang gee terwyl begunstigdes nog werk, hangende regulatoriese gereedheid.
# ‘n Polisieklopjag in Centurion, Gauteng, het ‘n voorraad petroleum-olie ter waarde van 200-duisend-rand gevind. Die gesamentlike optrede deur die Nasionale Vervalsingseenheid en Handelsmisdaadondersoeke, saam met handelsmerkbeskermers, het uitgeloop op die inhegtenisneming van vier Zimbabwiese burgers, wie se inwonerstatus deur Binnelandse Sake bevestig moet word. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê meer as drie-duisend liter vervalste petroleum-olie, onder bekende handelsmerke, is in beslag geneem:
# Sokker: Brasilië het die gesamentlike bod van Duitsland, Nederland en België oortref om 2027 se Wêreldbekertoernooi vir vroue aan te bied. Die wêreldbeheerliggaam Fifa het sy bodverslag bekend gemaak voor die aankondiging van die wenner volgende Donderdag tydens sy kongres in Bangkok, Thailand. Mexiko en die Verenigde State het verlede week hul bod teruggetrek om op die volgende Wêreldbekertoernooi in 2031 te fokus. Tegniese evaluering het Brasilië ‘n telling van 4 uit 5 gegee en die drie Europese lande 3,7, maar albei botte kwalifiseer vir oorweging as gasvrou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-153-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-310-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte, dit is vandag 99 jaar sedert Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika erken is, met planne vir volgende jaar se eeufeesviering. Afrikaans het Nederlands op 8 Mei 1925 vervang as die land se tweede amptelike taal naas Engels. ’n Komitee genaamd Afrikaans 100, bestaande uit organisasies, maatskappye en rolspelers uit die Afrikaanse gemeenskap, is verlede jaar in die lewe geroep om die eeufeesvierings te reël, wat volgende jaar sal eindig met ‘n fees op 8 Mei by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….