Nuus 17:00
BULLETIN 6 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit ontken energiesekerheid is gekoppel aan die verkiesing
# Die GOOD-party sê die Nasionale Vervolgingsgesag weet nie hoeveel WVK-sake hy behoort te ondersoek nie
# En, rugby: Die Haaie se losskakel behaal sukses op die ouderdom van 27
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het bewerings verwerp van ‘n verband tussen verbeterings in energiesekerheid en die komende verkiesing. Hy het op ‘n nuuskonferensie gepraat oor die vordering van die energie-aksieplan, en die rol van beplande instandhouding uitgelig. Ramokgopa het ‘n herstel van vyf-persentasiepunte in die eenheids-vermoënsfaktor tussen April verlede jaar en April vanjaar uitgelig, wat aandui beurtkrag se einde is naby. Hy waarsku die uitdagings duur voort, maar verseker daar is vordering gemaak:
# Die Good-party sê 21 jaar na die verskyning van die Waarheids- en Versoeningskommissie se finale verslag, het die Nasionale Vervolgingsgesag nog nie apartheid-era operateurs uitgeken teen wie misdade ondersoek behoort te word nie. Dit is onthul deur die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, na GOOD se vrae in die Parlement. Brett Herron van die party sê volgens Lamola is 159 van die WVK-sake waarvan die NVG bewus is, afgehandel en 137 word nog ondersoek.
# Die Vrystaatse regering het met ‘n projek begin om asbesdakke in meer as 36-duisend huise te vervang met sinkplaat. Senior ampsdraers, onder wie die voormalige premier, Ace Magashule, en 17 ander mense, is vroeër betrek by beweerde korrupsie met die onreëlmatige toekenning van ‘n kontrak van 255-miljoen-rand om asbesdakke te verwyder. Die LUR vir Menslike Nedersettings, Ketso Makume, sê die projek van drie-miljard-rand wil jaarliks behoorlike dakke vir twee-duisend strukture aanbring.
# Panama se voormalige minister van Sekerheid, José Raúl Mulino, is die nie-amptelike wenner van die presidentsverkiesing nadat drie teenstanders toegegee het hulle het verloor. Mulino volg oud-president Ricardo Martinelli op, wat nie kon deelneem nie weens sy skuldigbevinding aan geldwassery. Mulino het ‘n voorsprong van byna 35-persent van die stemme en het ondersteuners bedank en sy verantwoordelikhede erken. Hy beloof om migrasie te pak en die ekonomie te laat herleef. Sy oorwinning gaan gepaard met uitdagings aan die begin van sy termyn van vyf-jaar.
# Rugby: Die Haaie kom op 24 Mei in die Tottenham-stadion teen Gloucester te staan in die eindstryd van die Uitdaagbeker-kompetisie. Die losskakel, Siya Masuku, is die derde agtereenvolgende keer as speler van die wedstryd aangewys nadat hy 22 punte aangeteken het om die Haaie te help om Clermont in die halfeindstryd 32-31 te klop. Masuku het laat ontluik, op die ouderdom van 27, maar afrigter John Plumtree sê hy speel net al beter:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-522-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….