Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê verbeterings in energievoorsiening is nie verkiesingsverwant nie
# Die EFF gaan betalingsbewyse voorlê vir inwoners van die Nancefield Aftree-oord
# En, rugby: Die gewese kaptein van Skotland onthul sy tyd in ‘n rehabilitasie-sentrum ná sy onlangse arrestasie
# Die Presidensie weerlê bewerings dat die verbetering in energievoorsiening so kort voor die verkiesing, polities gemotiveer is. Hy skryf die vordering toe aan strategiese ingrypings wat in die energie-aksieplan uiteengesit word, insluitend verhoogde instandhouding, die verkryging van meer kapasiteit en ondersteuning vir dak-sonkrag-projekte. Die Presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, sê hoewel energievoorraad beperk bly, word pogings aangewend om energie-infrastruktuur vir langtermyn volhoubaarheid bestendig te maak en te verbeter:
# Die sameroeper van die EFF se Provinsiale Verkiesingstaakspan in Gauteng, Mbuyiseni Ndlozi, gaan bewys lewer van ‘n onderneming deur die partyleier, Julius Malema, om die huur te betaal vir meer as 40 bejaarde inwoners van die Nancefield Aftreeoord in Eldoradopark, Die party het ook ‘n kontrakteur aangestel om stukkende infrastruktuur te herstel. Woordvoerder Dumisani Baleni sê die betalingsbewyse sal môre voorgelê word:
# Die Stad Johannesburg doen ‘n beroep op inwoners en ondernemings om rondgaande meter-inspekteurs toegang te verleen om water- en elektrisiteitsmeters op hulle eiendom te lees. Hulle onderneem ‘n oudit van meters en doen spesiale meterlesings regoor die stad. Volgens die woordvoerder van die stad, Nkosana Lekotjolo, is dit om te verseker kliënte ontvang op ‘n maandelikse basis akkurate rekenings en meterlesings:
# Minstens 45 mense is dood toe ‘n damwal naby ‘n dorp in die Skeurvallei in Kenia gebars het, terwyl die land geteister word deur stortreën en vloede. Die ramp verhoog die dodetal oor die Maart tot Mei-reënseisoen in Kenia tot meer as 120. Reënval in Oos-Afrika is tans swaarder as gewoonlik as gevolg van die El Nino-weerpatroon. Inwoners sê die damwal het in die middel van die nag gebars, met water wat teen ‘n heuwel afstroom en alles in sy pad verswelg het.
# Rugby: Die voormalige kaptein van Skotland, Stuart Hogg, het bekend gemaak dat hy tyd in ‘n rehabilitasiesentrum deurgebring het nadat die polisie hom aangekla het in verband met ʼn voorval in die Skotse grensgebied. Hogg, wat die meeste drieë ooit vir Skotland gedruk het, het in 2023 net voor die Rugby-wêreldbeker sy uittrede aangekondig en gesê hy wil ʼn nuwe loopbaan begin. Hogg het Skotland 100 keer verteenwoordig en drie keer saam met die Britse en Ierse Leeus getoer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-450-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-332-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….