Nuus 17:00
BULLETIN 5 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party is optimisties terwyl hy voorberei vir moontlike koalisie-gesprekke
# Frankryk word getref deur nuwe betogings en stakings
# En, sokker: Cristiano Ronaldo kondig sy uittrede uit internasionale sokker aan
# Die MK-party se eerste adjunkpresident, Duduzane Zuma, sê die party is versigtig optimisties oor sy vertoning in vanjaar se plaaslikeregeringsverkiesing, maar glo dit is nog te vroeg om te vier. Hy sê die party het reeds spanne gereed en is baie beter voorbereid op moontlike koalisie-onderhandelings as in 2024. Zuma sê die MK-party sal gesprekke voer met partye wat sy waardes en beleid deel, insluitend die verbetering van die land se ekonomie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die subtiele en stelselmatige inkrimping van die staatsdiens deur middel van vrywillige afleggingspakette, die afskaffing en nie-vulling van poste, en die herverdeling van funksies na werknemers wat reeds oorlaai is. Claude Naicker van die PSA sê die afskaffing van ‘n pos beteken nie die werk self is afgeskaf nie en waarsku dat dit lei tot ‘n uitgeholde staatsdiens. Hy het ‘n beroep op die regering gedoen om korrupsie, misbruik van verkrygingsprosesse en verkwisting aan te pak, in plaas daarvan om kapasiteit wat vir dienslewering nodig is, in te kort:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê die matriek-eindeksamens het die halfpadmerk bereik, met kandidate wat reeds 95 van die 190 geskeduleerde vraestelle voltooi het. Die departement het eksamenbeamptes en skole bedank omdat hulle die proses op dreef gehou het, ondanks gemeenskapsgeweld en vervoerontwrigtings. Daar is egter 12 kandidate betrap wat hulle aan eksamenonreëlmatighede skuldig gemaak het, insluitend selfone en notas in die eksamenlokaal. Die LUR vir Onderwys, Jaco Londt, waarsku dat bedrog daartoe kan lei dat kandidate vir drie eksamens verban word:
# Derduisende mense sal na verwagting vandag landwyd in Frankryk betoog. Vakbonde en studentegroepe eis ferm optrede teen stygende lewenskoste, vervalle openbare dienste en haglike toestande in skole. Dit volg nadat president Emmanuel Macron gister ‘n veiligheidsvergadering belê het in ‘n poging om ‘n herhaling van verlede maand se oproerigheid en plundering te verhoed. Ongeveer 70-duisend polisielede is landwyd aan diens. Ontwrigtings word verwag in openbare vervoer, spoordienste en skole, terwyl kragwerkers ook by die staking aansluit.
# Sokker: Die Portugese sokkerster Cristiano Ronaldo het sy uittrede uit internasionale sokker aangekondig en daarmee sy loopbaan van 23 jaar by die nasionale span beëindig. Die 41-jarige het op sosiale media gesê dit is tyd om Portugal se nommer sewe-trui terug te gee. Ronaldo het 234 keer vir sy land uitgedraf en ’n rekordgetal van 146 doele aangeteken. Hy was kaptein toe Portugal in 2016 die Europese Kampioenskap gewen het, en ook gehelp om die Nasiesliga in 2019 en 2025 te wen. Hy tree nie uit klub-sokker nie en bly aan by die Saoedi-Arabiese klub Al-Nassr.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-61-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-118-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 100-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….