Nuus 17:00
BULLETIN 19 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige Kaizer Chiefs-verdediger Luke Fleurs word môre begrawe
# Minister Thulas Nxesi, verwelkom die uitspraak oor Thuja Capital se ooreenkoms met die Werkloosheids-versekeringsfonds
# En rugby: Die belowende jong agterspeler Sacha Feinberg-Mngomezulu verleng sy kontrak met die Stormers tot 2027
# Die voormalige verdediger van Kaizer Chiefs, Luke Fleurs, word môre in Kaapstad begrawe. Hy is vroeër die maand by ‘n vulstasie in Johannesburg gekaap en doodgeskiet. Die ses beskuldigdes in sy moord-en-roof-saak het vandag hul tweede verskyning gemaak in die Roodepoortse Landdroshof, waar hul borgtogaansoek uitgestel is tot Donderdag. Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van moord, roof, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en regsverydeling.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, het die besluit van die Hooggeregshof in Pretoria verwelkom om ‘n werkskemakontrak van vyf-miljard-rand tussen die Werkloosheids-versekeringsfonds en Thuja Capital nietig en ongeldig te verklaar. Die hof verbied ook Thuja se uitvoerende hoof, Mthunzi Mdwaba, om Nxesi in die openbaar van korrupsie te beskuldig oor beweerde omkoopgeld van 500-miljoen-rand, en om die minister se regskoste te dek. Die minister se raadgewer, Lumko Mtimde, het bevestig Nxesi is van plan om ‘n lastersaak teen Mdwaba in te dien:
# Namibië worstel met ‘n ernstige droogte in groot dele van die land wat verslegtende weidingstoestande en watertekorte vir vee veroorsaak. Diere se lewens is in gevaar, met weiding en water wat steeds ‘n probleem is, en groot kommer oor vee laat ontstaan. Die minister van Landbou, Water en Grondhervorming, Calle Schlettwein, beklemtoon die uitdagings en wys veral op laat en swak reënval sedert die begin van die seisoen:
# Rugby: Die belowende jong Stormers-agterspeler Sacha Feinberg-Mngomezulu het sy kontrak tot 2027 verleng. Die voormalige Junior Springbok het in 2022 op die ouderdom van 20 vir die Stormers begin speel en sedertdien sy waarde getoon in verskeie posisies. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê Feinberg-Mngomezulu is sedert sy skooljare geoormerk as jong talent en hulle sien daarna uit dat hy sy potensiaal verwesenlik. Die voormalige Springbok-ster Victor Matfield bestempel hom as ‘n toekomstige Bok-losskakel en moedig die Stormers aan om hom in daardie posisie te gebruik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-15-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-627-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-382-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-91-sent per vat..
# En, laastens: Dit is vandag twee maande sedert die sesjarige Joslin Smith van Saldanhabaai vermis geraak het. Sy het op 19 Februarie verdwyn terwyl sy in die sorg van haar ma se kêrel, Jacquin Appollis, was. Haar ma, Kelly, Appollis, Steveno van Rhyn en Lorentia Lombaard het in die Landdroshof in Vredenburg verskyn op aanklagte van menseroof en mensehandel. Die minister van Polisie, Bheki Cele, het vroeër die maand bekend gemaak Interpol werk saam om Joslin op te spoor. Owerhede hoop om haar te vind of uit te vind wat met haar gebeur het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….