Nuus 16:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 10 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senior ANC-ampsdraers wat by die WVF-werksage betrek word sal nie gevra word om opsy te staan nie
# Die Tshwane-staking is uiteindelik verby en dienste het na normaal teruggekeer
# Krieket: Allan Donald verlaat Bangladesj nadat hy die kaptein gekritiseer het
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het besluit om nie die opsystaanreël in te stel vir senior leiers wat by die Werkloosheids-versekeringsfronds-werksage betrek word nie. Die uitvoerende hoof van Thuja Capital, Mthunzi Mdwaba, beskuldig die minister van Finansies, Enoch Godongwana, die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, en die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, dat hulle ‘n fooi van 500-miljoen-rand geëis het vir ‘n tendertransaksie van vyf-miljard-rand. ANC woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri sê ‘n besluit is hangende oor ‘n moontlike ondersoek:
Speel klankgreep: ENG-Bhengu-MotsiriOnUIFScandal
# Die Stad Tshwane het die hervatting van alle munisipale dienste aangekondig ná ‘n drie-maande-lange onwettige staking. Noodsaaklike funksies, insluitend vullisversameling en nutsdienste, het na normaal teruggekeer. Die meeste agterstande is ook op datum gebring. Die stadsbestuurder, Johann Mettler, het verligting uitgespreek, met verwysing na die einde van geweld en die vernietiging van eiendom. Die stad se woordvoerder, Selby Bokaba, sê voortgesette samesprekings tussen Tshwane en munisipale vakbonde Imatu en Samwu oor salarisgeskille vorder positief. Bokaba vra om verskoning vir enige ongerief tydens die ongekende staking:
Speel klankgreep: ENG BokabaOnStrike
# Alle aangehoudenes in die Medium A-afdeling van die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad is ingeperk na ‘n uitbreking van witseerkeel wat die lewe van ‘n 19-jarige man geëis het. Nog agt mense het positief getoets vir die siekte, wat beskryf word as hoogs aansteeklik en potensieel lewensbedreigend. Delekile Klaas van Korrektiewe Dienste sê die departement het die howe ingelig die gevangenes sal minstens die volgende twee weke nie sake kan bywoon nie. Geen personeellede word geraak nie, maar is gevra om versigtig te wees.
# Krieket: Die voormalige Protea-held, Allan Donald, gaan sy posisie as snelbouler-afrigter van Bangladesj na die Wêreldbekertoernooi verlaat nadat hy krities was oor die kaptein, Shakib Al Hasan, se rol in die omstredenheid oor tydverspilling. Al Hasan het geappelleer vir die paaltjie van die Sri Lankaanse veteraan Angelo Mathews omdat dit hom langer as die voorgeskrewe twee minute geneem het om slag te bied nadat sy kopskerm se band gebreek het. Donald sê hy was geskok en die voorval het Bangladesj se kliniese vertoning oorskadu. Sy werkgewers was ongelukkig oor sy openbare kritiek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-956-dollar-20-sent. Die prys van goud is een-duisend-948-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-8-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ‘n Professor aan die Universiteit van Kaapstad, Arnaud Malan, en sy span gebruik rekenaarmatige vloei-dinamika om Airbus te ondersteun in hul vliegtuigontwerp. Dit beskik oor wye toepassings en die potensiaal om die vervaardigingsbedryf in Suid-Afrika te laat groei en die lugvaartbedryf te ontkool. Indien passasiers op ‘n vliegtuig is wat deur Airbus gebou is, is die kanse goed dat die vliegtuig met sagteware van die Universiteit van Kaapstad ontwerp is. Die groep het gewerk aan rekenaarmatige vloei-dinamika en die toepassing daarvan in die lugvaartbedryf. Malan sê hulle gebruik toegepaste wiskunde en berekeningsmodellering om vliegtuigontwerp na te boots.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….