Nuus 16:00
BULLETIN 22 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering waarborg ‘n lening van een-miljard-rand aan SAL te midde van stygende brandstofpryse
# Suid-Afrikaanse kleinhandelverkope styg in Augustus met 3,3-persent
# En Suid-Korea se beroemde haai weier om haar kanaal te verlaat
# Die regering het ‘n leningswaarborg van tot ‘n miljard-rand aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens toegestaan om sy daaglikse bedrywighede te help befonds weens stygende brandstofpryse. Die Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, sê dis nie befondsing nie, maar beteken die regering sal lenings waarborg indien die lugredery nie sy verpligtinge kan nakom nie. Hy sê die regering werk saam met die lugdiens om ‘n langtermyn strategiese aandelevennoot te bekom om verdere reddingsboeie te verhoed. Die lugvaartkenner Guy Leitch waarsku die waarborg dui aan die SAL is nog glad nie winsgewend nie.
# Statistiek Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het in Augustus met 3,3-persent toegeneem. Verkope van klere, skoeisel en leerware was een van die grootste bydraers, saam met verkope deur algemene handelaars en ander kleinhandelaars. Seisoenverkope het egter met 0,3-persent gedaal vergeleke met Julie. Raquel Floris van Statistiek Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het oor die drie maande tot Augustus met 2,6-persent toegeneem in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar, wat op voortgesette groei in verbruikersbesteding dui:
# President Cyril Ramaphosa sê maatskappye moet opleiding en vaardigheidsontwikkeling vir jongmense as ‘n belegging in hul ondernemings beskou. Hy het tydens ‘n jeugindiensnemings-konferensie in Sandton, Johannesburg, gesê jongmense bring vars perspektiewe, veral terwyl nywerhede kunsmatige intelligensie begin gebruik. Ramaphosa sê bestaande programme vir jeugindiensneming moet lei tot volhoubare voortbestaan en nie net tydelike werk nie. Hy het die regering gevra om jongmense te help met werk wat verder strek as bloot opleidingsertifikate:
# Krieket: Die Australiese vroue se ster-snelbouler, Megan Schutt, is vir twee wedstryde geskors omdat sy reëls oor voorskrifmedisyne oortree het. Die 33-jarige het in die onlangse eendagreeks teen Bangladesj uitgeblink. Volgens Krieket Australië hou die straf verband met ‘n enkele voorval buite kompetisieverband en het nie ten doel gehad om prestasie te verbeter nie. Schutt het om verskoning gevra omdat sy nie aan die verwagte standaarde voldoen het nie. Sy sal die laaste T20 teen Nieu-Seeland misloop, asook Adelaide Strikers se eerste wedstryd in die Big Bash-liga.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-764-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-71-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 113-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Koreaanse reddingswerkers berei voor om Busan se beroemde haai weereens terug see toe te help. Die vaalhaai met die bynaam Bukang-i is ure na ‘n vorige poging weer terug in die kunsmatige kanaal in die hawestad Busan, waar sy langer as ‘n maand deurgebring het. Amptenare het haar gister deur die uitgang van die kanaal see toe gelei, maar sy het oornag deur ‘n opening onder ‘n drywende versperring teruggeswem. Die owerhede oorweeg nou sterker versperrings en verdere maatreëls om die bedreigde dier te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….