Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OPOD ondersoek die polisie wat skiet op vermeende misdadigers
# Die aanvaarding van die SABC-wetsontwerp word uitgestel tot die volgende Parlement
# En, rugby: Die Leeus is slaggereed om sake uit te spook vir ‘n plek in die Uitdaagbeker-kwarteindronde
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat sê hy ondersoek twee voorvalle van sterftes in skietgevegte tussen die polisie en vermeende misdadigers. OPOD het die afgelope twee dae gehoor van nege vermeende misdadigers wat in KwaZulu-Natal doodgeskiet is, en ses in Mpumalanga. Terwyl die polisie volgens wet hulleself en andere mag verdedig, is die polisiewaghond bekommerd oor die dood van ‘n toenemende aantal verdagtes. Die woordvoerder, Phaladi Shuping sê die toename in voorvalle het ‘n uitwerking op die spoed van ondersoeke:
# Die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë het bekendgemaak die Wetsontwerp op die SABC sal weens die komende verkiesing nie gedurende die huidige administrasie deurgevoer word nie. Die adjunkminister, Philly Mapulane, het in Pretoria teenoor die media benadruk die doel met die wetgewing is om die befondsingsmodel van die SABC te vernuwe en die mandaat vir kommersiële en openbare dienste te skei. Mapulane het gewys op voortgesette maatreëls deur die raad om die SABC te vernuwe en is optimisties die volgende Parlement sal die wetsontwerp deurvoer.
# Die Nasionale Raad van DBV’s het bevestig aansteeklike pustulêre dermatitis is gediagnoseer onder skape en bokke in die Al Mawashi-voerkraal, vanwaar die diere na Koeweit en Saoedi-Arabië verskeep sal word. Die Midde-Ooste het in die verlede verskepings uit Australië afgewys, waar die siekte aangetref is. Die DBV se woordvoerder, Jacques Peacock, sê die regering het bevestig indien Koeweit en Saoedi-Arabië die verskeping sou afwys, sal Suid-Afrika nie die diere kan terugneem nie:
# Eskom het aangekondig beurtkrag bly opgeskort tot verdere kennisgewing, na nege agtereenvolgende dae sonder kragonderbrekings. Die besluit is die gevolg van volgehoue beskikbare opwekkingsvermoë en genoeg noodreserwes. Eskom sal sake Sondagmiddag opdateer of enige aansienlike veranderings deurgee, sou dit nodig word.
# Rugby: Die Leeus vertrou dit is ‘n beter jaar na verskeie teleurstellende seisoene. Hulle spook sake uit vir ‘n plek in die top agt van die Verenigde Rugbykampioenskap en speel in die laaste 16 van die Uitdaagbeker. Die span van Johannesburg speel môre teen Benetton in Treviso en indien hulle sukses behaal, bly hulle in Europa agter om in die kwarteindstryd van die Uitdaagbeker teen Pau of Connacht te speel. Skrumafrigter Julian Redelinghuys verwag ‘n Italiaanse span vol selfvertroue:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-570-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-293-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….