Nuus 16:00
BULLETIN 4 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mapisa-Nqakula kry borgtog van 50-duisend-rand
# ActionSA en ander partye beloof om by die Verkiesingsgedragskode te hou
# En, rugby: Jake White sê weer oorsese Springbokke moet terug kom huis toe
# Die Landdroshof in Pretoria het borgtog van 50-duisend-rand toegestaan aan die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Sy word beskuldig van die ontvang van omkoopgeld van meer as twee-miljoen-rand. Die staat het nie borgtog teengestaan nie weens haar gesondheid en vrywillige oorgawe aan die polisie. Landdros Anna Oosthuizen sê die hof is tevrede Mapisa-Nqakula se vrylating is in die belang van geregtigheid:
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, en ander partye wat op 29 Mei aan die verkiesing gaan deelneem, het beloof hulle sal aan die Verkiesingsgedragkode voldoen. Mashaba het na die ondertekening op die Gallagher-landgoed in Midrand, Johannesburg, gesê hulle is opgewonde oor hulle eerste deelname aan ‘n algemene verkiesing, en kiesers aangemoedig om ‘n regering te kies wat Suid-Afrikaners eerste stel. Hy beklemtoon die kies van ‘n party wat fokus op aksie om Suid-Afrika se uitdagings te pak:
Die Beleidsonsekerheids-aanwyser van Suid-Afrika het intussen in die eerste kwartaal gedaal tot 65,8-persent nadat dit in die vorige kwartaal op 65,5-persent gestaan het. Die Universiteit van Noordwes skryf die daling toe aan kommer oor die uitkoms van die verkiesing, met meningspeilings wat moontlike ANC-steun van minder as 50-persent noem. Die toetrede van nuwe partye en die waarskynlikheid van ‘n koalisieregering dra verder by tot onsekerheid, wat ‘n uitwerking het op beleggersvertroue en markbestendigheid.
# Meer as 600 Britse regslui, wat drie voormalige Hoërhofregters insluit, het hul regering aangemoedig om wapenverkope aan Israel te staak. Hulle glo dit kan die land aandadig maak aan volksmoord in Gaza. Reuters berig eerste minister Rishi Sunak is onder toenemende druk om die verkope te staak nadat Israelse soldate dié week drie Britse burgers saam met vier ander hulpverlenings-werkers vermoor het. Die regslui sê die verskaffing van militêre bystand aan Jerusalem kan ernstige oortredings van internasionale humanitêre reg daarstel.
# Rugby: Die Bulle berei voor om die Franse klub Lyon Saterdag vir ‘n Kampioenebeker-kragmeting op Loftus Versfeld in Pretoria te verwelkom. Hulle hoop om vinnig weer op hulle voete te wees na Vrydag se loesing deur Leinster in Dublin. Die Bulle se direkteur van Rugby, Jake White, het weer gevra Springbokke wat oorsee speel moet na Suid-Afrika terugkeer om die plaaslike spel te versterk:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-555-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-286-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….