Nuus 16:00
BULLETIN 16 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie verwelkom Suliman Carrim se inhegtenisneming nadat hy die land probeer verlaat het
# Die DA maak ‘n strafregtelike saak aanhangig oor Tshwane se waterkrisis
# En ‘n man word met ‘n tas vol slange op ‘n Duitse lughawe betrap
# Die Madlanga-kommissie verwelkom die inhegtenisneming van die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, gisteraand op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng. Hy het in Maart voor die kommissie verskyn, maar daaropvolgende verskynings misgeloop om mediese redes. Woordvoerder Jeremy Michaels sê Carrim is aangekla nadat hy versuim het om op 14 Augustus ingevolge ‘n dagvaarding te verskyn, en herhaaldelik nie aangevraagde inligting en dokumente verskaf het nie:
# Die DA gaan ‘n strafregtelike saak aanhangig maak oor beweerde tekortkominge in Bronkhorstspruit se watersuiweringsaanleg in Tshwane. Dit volg op berigte van tot 160 gevalle van maag- en ingewandsiektes waarvan die oorsaak nog nie vasgestel is nie. Die DA se burgemeesterskandidaat, Cilliers Brink, sê ‘n verklikker beweer dat chloorbehandeling drie weke lank opgeskort is. Hy eis toets-uitslae van die watergehalte, ‘n onafhanklike ondersoek en dringende toegang tot veilige drinkwater vir gemeenskappe wat geraak word:
In Kaapstad versoek die metro inwoners en ondernemings om water te spaar ter voorbereiding van ‘n langer en droër somer. Die stad het onlangs die Stodels-tuinsentrum in Bellville besoek, waar boorgatwater gebruik en tuiniers aangemoedig word om waterslim plante te kies en ander waterbesparende gebruike toe te pas. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê waterbesparing is ‘n gedeelde verantwoordelikheid en elke druppel help om die stad se watervoorsiening te beskerm:
Nuus uit die buiteland:
# Duitse doeanebeamptes het 92 reptiele, insluitend 37 giftige slange, in die tas van ‘n Mexikaanse reisiger op die Keulen/Bonn-lughawe ontdek. Die 45-jarige brandweerman is voorgekeer nadat hy senuweeagtig voorgekom het by die uitgang vir passasiers met niks om te verklaar nie. ‘n Dwelmtoets het kokaïengebruik aangedui, maar beamptes het geen dwelms in sy bagasie gevind nie. Amptenare het egter reptiele ontdek wat in bottels, plastiekhouers en sokkies versteek was. Sowat 30 reptiele het tydens die reis of kort daarna gevrek. Die man is teruggestuur na Istanboel.
# Tennis: Sonay Kartal van Brittanje het die vyfde-gekeurde Elina Svitolina van Oekraïne geklop om haar eerste WTA-een-duisend-halfeindstryd te haal op die Wuhan-ope in China. Die 24-jarige het in skoon stelle gewen en sodoende haar indrukwekkende terugkeer voortgesit nadat ‘n rugbesering haar ses-maande lank op die kantlyn gehou het. Kartal, wat 170ste op die wêreldranglys is, het nou drie gekeurde spelers na mekaar geklop. Sy speel môre teen Jelena Ostapenko van Letland vir ‘n plek in die eindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-277-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-177-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….