Nuus 16:00
BULLETIN 28 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma ondervind die sesde terugslag in sy privaat vervolgingsveldtog
# Limpopo se Vervoerdepartement verwag verkeersvolumes sal toeneem
# En die IOK is tevrede met Brisbane se voorbereiding vir 2032 se Olimpiese Spele
# Oudpresident Jacob Zuma het sy sesde regsnederlaag gely in sy veldtog om die staatsaanklaer Billy Downer en die joernalis Karyn Maughan privaat te vervolg. News24 berig die Appèlhof het Zuma se aansoek afgekeur weens ‘n gebrek aan buitengewone omstandighede. Drie volbank-uitsprake het bevestig Zuma se poging om Downer en Maughan aan te kla, is ‘n misbruik van prosesse in sy strategie om nie verhoor te word vir wapentransaksiekorrupsie nie. Die Hooggeregshof in KwaZulu-Natal het verlede week Zuma se jongste poging gestuit om Downer as aanklaer te verwyder.
# Limpopo se Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid sê verkeersvolumes sal na verwagting van vandag af aansienlik toeneem op hoofroetes terwyl mense na hul Paasnaweek-bestemmings reis. Die departement se woordvoerder, Tidimalo Chuene, sê die N1 en R101, noordwaarts van Gauteng na Polokwane, en sakedistrikte regdeur die provinsie sal uiters besig wees:
Intussen sê die Stad Tshwane mense wat oor die Paasnaweek na malaria-gebiede reis moet die nodige voorsorgmaatreëls tref. Malaria is endemies in dele van Mpumalanga, Limpopo en die noordooste van KwaZulu-Natal. Die burgemeesterskomiteelid vir Gesondheid, Rina Marx, sê lande in Suider-Afrika waar malaria ook endemies is, sluit in Mosambiek, Zimbabwe, Zambië en Angola:
# Gevegte en bombardering gaan voort in die Gazastrook nadat Amerika en Israel ooreengekom het om samesprekings te hervat. Spanning tussen die lande neem toe weens Amerikaanse kritiek op Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu. Dit hou verband met die burgerlike sterfesyfer in Gaza, uitmergelende voedseltekorte en Israel se plan om sy grondaanslag na Rafah uit te brei. Die gevegte duur voort ondanks Maandag se bindende resolusie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad wat ‘n onmiddellike skietstilstand eis, asook die vrylating van gyselaars.
# Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee is tevrede met Brisbane se voorbereiding vir die Spele van 2032, ondanks onenigheid oor die verandering van stadions. Die voorsitter van die IOK se Koördineringskommissie, Kirsty Coventry, is bekommerd oor die regering in Queensland se jongste verskuiwing van die stadions. Vrae word ook geopper oor nog veranderings indien daar in Oktober ‘n nuwe regering in die Australiese staat kom. Coventry sê die hantering van politieke verandering is deel van elke gasheerstad se voorbereidings, en sy is seker almal sal saamstem oor die pad vorentoe.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-425-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-213-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….