Nuus 16:00
BULLETIN 14 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie verskerp veiligheidsmaatreëls voor die plaaslike regeringsverkiesing
# Sibiya se verdediging voer aan hy hou geen vlugrisiko in nie
# En krieket: Die Protea-afrigter oorweeg veranderings vir die tweede toets
# Die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo, sê geregsdienaars sal in verskeie provinsies ontplooi word om politieke moorde te voorkom voor volgende maand se plaaslike regeringsverkiesing. Dit volg op ‘n skietvoorval in Katlehong, Gauteng, waarin vier lede van die ANC-Jeugliga dood en drie beseer is. Hulle het vooraf ‘n gedenkdiens vir die vermoorde plaaslike ANC-leier, Jeanette Magugu, bygewoon. Boshielo het politieke leiers versoek om geskille deur dialoog op te los, nie geweld nie:
# Die voormalige adjunk-nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya se regsverteenwoordiger, Estelle Kilian, het in die Randburgse Landdroshof in Gauteng aangevoer hy is nie ‘n vlugrisiko nie en sal nie inmeng met getuies nie. Sibiya doen aansoek om borgtog in sy seksuele misdrywe-saak. Kilian sê hy het onderneem om nie met staatsgetuies in verbinding te tree nie. Sy voer aan daar is geen buitengewone omstandighede wat aandui sy vrylating sal die openbare orde bedreig nie:
# Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake vra groter beleggings in rampvoorkoming en -gereedheid om gemeenskappe te beskerm teen die groeiende uitwerking van klimaatsverandering en ander gevare. Suid-Afrika se rampbestuurstelsel berus op die Rampbestuurswet en word deur ‘n veelvlakkige stelsel van samewerkende regering bestuur. Die departement se direkteur-generaal, Mbulelo Tshangana, het tydens ‘n konferensie oor rampbestuursrisiko’s in Mpumalanga gesê rampvoorkoming moet deel vorm van ontwikkelingsbeplanning, dienslewering en infrastruktuurbelegging. Tshangana beklemtoon ook die noodsaaklikheid van vroeë waarskuwingstelsels, munisipale vermoë en gemeenskapsbetrokkenheid.
In Asië is lugbesoedeling in Singapoer nou op sy hoogste vlak vanjaar weens rook van Indonesiese veldbrande. Oos-Timor het intussen gelas skole moet vanaf môre drie dae sluit oor die gevaarlike rookstowwe in die lug. Indonesië beleef sy ergste veldbrandseisoen in 11 jaar, aangesien droë toestande wat met El Niño gepaard gaan die brande aanwakker. Die rook raak ook Maleisië, waar skole in verskeie gebiede gesluit is. Indonesië het meer as 69-duisend brandbestryders ontplooi om die brande te probeer blus.
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê dis nie nou tyd vir ondeurdagte reaksies na hulle nederlaag teen Australië in die eerste toets in Durban nie. Hy beklemtoon daar is geen verskonings nie, maar wys op die invloed van talle beserings, veral dié van die snelbouler Kagiso Rabada. Hy behoort te kan speel in die tweede toets in Gqeberha, waarskynlik ten koste van Anrich Nortjé. Conrad gaan ‘n paar veranderings aanbring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-656-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-150-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….