Nuus 16:00
BULLETIN 26 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK stel kandidatelyste bekend vir besigtiging en besware
# Klagtes word ondersoek teen die Staatsveiligheidsagentskap en die Mededingingskommissie
# En, krieket: Die eindstryd van die IPL sal in Chennai plaasvind
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het kandidatelyste vir die komende verkiesing gepubliseer, met 14-duisend-662 kandidate vir 887 setels. Die besigtiging van lyste en besware is oop tot môre. Daar is 42 kandidate wat op verskeie partylyste verskyn. Die grootste stembrief, met 56 deelnemers op, is vir die Nasionale Vergadering se setels wat volgens partye se steun toegewys word. Gauteng het die grootste streekstembrief, met 40 partye en twee onafhanklike kandidate, terwyl Limpopo die meeste onafhanklike kandidate het, naamlik drie. Die finale kandidatelys sal op 10 April verskyn.
# Die Inligtingsreguleerder ondersoek tans klagtes teen die Staatsveiligheidsagentskap en die Mededingingskommissie. Die klagte teen die agentskap hou verband met ‘n versoek om toegang tot uitgawe-inligting, terwyl die klagte teen die kommissie handel oor toegang tot ondersoek- en samesmeltingsverslae. Die klaer soek duidelikheid oor die toepassing van die wet en openbare bevoegdhede in groot transaksies. Die voorsitter van die reguleerder, Pansy Tlakula, sê hulle is vebind tot deursigtigheid en om aanspreeklikheid in regeringsagentskappe en regulerende liggame te verseker:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, het amptelik die kansellasie van die registrasie aangekondig van vier Educor-private kolleges, weens versuim om wetlike vereistes na te kom. Die instellings, Damelin, CityVarsity, Icesa City Campus en Lyceum College, het onder meer versuim om finansiële state en belastingklaringsertifikate in te dien. Klagtes teen die instellings het gewissel van swak gehalte van leer en onderrig tot onvoldoende personeel-gehalte en salaris-wanbetaling. Nzimande het personeel wat geraak word, versoek om regshulp te kry:
# Verskeie mense word vermis nadat ‘n brug meegegee het nadat ‘n houerskip daarteen gebots het in Baltimore in die Verenigde State. Verskeie voertuie het in die Patapsco-rivier beland. Die Francis Scott Key-brug het ná die botsing in stukke gebreek. Die burgemeester van Baltimore, Brandon Scott, beskryf die voorval as ‘n ondenkbare tragedie, terwyl die goewerneur van Maryland, Wes Moore, ‘n noodtoestand afgekondig het en sê hy wil hê federale bronne moet ontplooi word. Alle bemanningslede van die skip, die Dali, is gevind.
# Krieket: Die eindstryd van die Indiese Premierliga word op 26 Mei in Chennai gespeel. Die organiseerders het die volledige skedule vrygestel nadat hulle aanvanklik eers die eerste twee weke se wedstryde aangekondig het weens Indië se algemene verkiesing wat vanaf 19 April oor ses weke plaasvind. Dit beteken die Punjab Kings, Rajasthan Royals en Delhi Capitals sal van hul tuisbasisse af moet verskuif. Die uitspeel-wedstryde sal almal in Ahmedabad gespeel word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-887-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-193-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….