Nuus 16:00
BULLETIN 13 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat beweer Sibiya het mnr M gedreig in ‘n saak oor seksuele misdrywe
# Standard Bank befonds die Gautrein-opknapping van nege-miljard-rand
# En krieket: Australië wen die eerste toets teen Suid-Afrika met 214 lopies
# Die staat het ‘n beëdigde verklaring ingedien wat beweer die voormalige adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, het ‘n man, geïdentifiseer as mnr M, gedreig nadat hy hom daarvan beskuldig het dat hy sy tienerdogter seksueel aangerand het. Die beëdigde verklaring, wat in die Landdroshof in Randburg, Gauteng, voorgelees is, beweer Sibiya het mnr M woedend gebel nadat ‘n strafsaak geopen is en die pa hom oor sy 16-jarige dogter se aantygings genader het:
# Standard Bank het die volle skuldbefondsing van nege-miljard-rand verseker om die Gautrein-stelsel die volgende 15-jaar te vernuwe. Die belegging sal bestuur word deur Sihamba Sonke Mobility, wat verlede maand die bedryf en instandhouding oorgeneem het. Die plan sluit in die opknapping van 24 treine, agt nuwe treine, die opknapping van stasies en sinjaal-stelsels en die vernuwing van kaartjiestelsels. Dit maak ook voorsiening vir hernubare energieprojekte en die vervanging van toevoerbusse. Dit het ten doel om die Gautrein se lewensduur te verleng en ‘n meer betroubare vervoerstelsel te verseker.
# Mynbouproduksie het volgens Statistiek Suid-Afrika in Augustus met 12,7-persent gedaal. Die afname word hoofsaaklik toegeskryf aan swakker produksie van platinum-groepmetale, steenkool en ystererts. Mineraalverkope was ook onder druk en het met 15,1-persent afgeneem vergeleke met Augustus verlede jaar. Goudverkope het met bykans 49-persent teruggesak. Juan-Pierre Terblanche van Statistiek Suid-Afrika sê mynbouproduksie het in die drie maande tot einde Augustus met 5,2-persent afgeneem, terwyl mineraalverkope oor dieselfde tydperk met 13,3-persent gedaal het:
# ‘n Sesjarige meisie is in ‘n bedenklike toestand nadat sy vanoggend verskeie kere gesteek is in ‘n skool vir kinders met spesiale behoeftes in Umhlali aan KwaZulu-Natal se noordkus. Sy is onder gevorderde lewensondersteuning na ‘n gespesialiseerde mediese gerief geneem. Die polisie sê ‘n tiener-verdagte wat na bewering ‘n voormalige leerder is, het toegang tot die kerkgebaseerde skool verkry, ‘n klaskamer toegesluit en die meisie voor haar klasmaats aangeval. ‘n Onderwyser het die deur oopgedwing en ingegryp. Die verdagte is aangekeer en aan die polisie oorhandig.
# Krieket: Die aanvangskolwer Aiden Markram se alleenstryd was tevergeefs en Australië het die eerste toets teen die Proteas in Durban met 214 lopies gewen. Suid-Afrika het op die laaste dag op 102 vir vier hervat onderweg na ‘n onmoontlike teiken van 422. Markram is uiteindelik vir 75 uitgevang en die Proteas is vir 206 uitgeboul. Australië het gister sy tweede beurt op 314 vir ses gesluit na ‘n eerstebeurt-voorsprong van 106 lopies. Die voorlaaste toets begin Sondag in Gqeberha en die laaste een die 27ste in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-349-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-187-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….