Nuus 16:00
BULLETIN 12 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC vra die Konstitusionele Hof om sy afgekeurde kandidate op die stembriewe in te sluit
# ‘n Brand vernietig ‘n geskiedkundige mark in Parys
# En rugby: Die Haaie wil Malcolm Marx na Durban lok
# Die ANC het die Konstitusionele Hof meegedeel die Verkiesingskommissie moet sy kandidate in ses munisipaliteite insluit indien die wet dit vereis. Regsverteenwoordiger Daniel Berger sê die party se kandidaatlyste behoort nie weens ‘n administratiewe oorsig uitgesluit te word nie. Hy sê dit sal sowat 720-duisend-rand kos om die stembriewe te verander. Berger meen die uitsluiting van die kandidate kan kiesers se reg benadeel om vir die party van hul keuse te stem:
# Die Siyafana Sonke Action-veldtog waarsku aanvalle op die Suid-Afrikaanse regbank bedreig die land se grondwetlike demokrasie. Woordvoerder July Eccles sê kritiek op hofuitsprake is geregverdig wanneer dit wettig, beredeneerd en op bewyse gegrond is, maar dreigemente, intimidasie en aanhitsing teen regters ondermyn die onafhanklikheid van die regbank en die regsorde. Sy is ook bekommerd oor xenofobiese vertellings en verkeerde inligting wat versprei word deur groepe wat teen migrante gekant is:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Brand het Parys se oudste onderdak voedselmark vernietig. Die geskiedkundige mark in die Marais-distrik van die Franse hoofstad dateer uit die vroeë 1600’s en bestaan al langer as 400 jaar. Die mark is vroegoggend deur vlamme verswelg. Brandbestryders kon dit onder beheer bring, maar die struktuur is grootliks vernietig en ‘n deel het ingetuimel. Geen sterftes is aangemeld nie, maar ‘n brandbestryder moes mediese behandeling ontvang. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Die mark, wat in 1615 gestig is, is sedert 1982 ‘n geskiedkundige monument.
# Rugby: Die Haaie stel ook belang in die dienste van die Springbok-haker Malcolm Marx. Hy is vroeër verbind aan ‘n moontlike skuif na die Bulle in Pretoria, maar die Durbanse span moes ander moontlikhede vir die nommer-twee-trui oorweeg weens onsekerheid rondom die Bok-haker Bongi Mbonambi, wat tans in ‘n dissiplinêre geskil met die unie gewikkel is. Die 32-jarige Marx is die huidige wêreldspeler van die jaar, en het al 93 toetse vir Suid-Afrika gespeel. Hy is tans onder kontrak by die Japannese span Kubota Spears.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-231-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-170-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse ekonome Robert Hall en Michael Woodford is bekroon met 2026 se Nobelprys vir Ekonomiese Wetenskappe vir hul werk oor ekonomiese bestendiging. Hul navorsing het gelei tot die ontwikkeling van raamwerke wat regerings en sentrale banke help om ekonomiese hoogte- en laagtepunte te bestuur deur rentekoerse, staatsbesteding en ander beleidsmaatreëls. John Hassler van die Nobelkomitee sê dit help beleidmakers om te reageer op ekonomiese terugslae, inflasie en skielike ekonomiese skokke soos energiekrisisse:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….