Nuus 16:00
BULLETIN 5 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika herroep sy gesant na Indië oor Zuma en Gupta se vergadering
# Ramsamy van IDAC beweer Johnson het haar geïntimideer
# En moesonvloede en grondstortings eis meer as 100 lewens in Indië
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het Suid-Afrika se hoëkommissaris na Indië, Anil Sooklal, herroep vir raadpleging na aanleiding van oudpresident Jacob Zuma se ontmoeting met die voortvlugtige Gupta-familielid Ajay tydens ‘n besoek aan Indië. ‘n Interne ondersoek na die voorval word tans gedoen. Minister Ronald Lamola het op ‘n nuuskonferensie gesê die regering beplan om die reëls te verskerp vir oudpresidente wat diplomatieke ondersteuning vir buitelandse reise versoek:
# Advokaat Drushantha Ramsamy van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie het aan die Madlanga-kommissie gesê dat sy geïntimideer is nadat sy die Artikel 27-verwysing in ‘n ondersoek bevraagteken het. Sy het die hoofondersoekbeampte, Dylan Perumal, uitgedaag, waarna die voormalige hoof, Andrea Johnson, haar opdrag gegee het om formeel op beweerde kantoorskinderpraatjies te reageer. Ramsamy sê Johnson het haar later vir nege maande opsygeskuif en beveel om haarself te bewys na haar besware:
Nuus uit die buiteland:
# Verwoestende moesonvloede en grondstortings het reeds die lewens van meer as 100 mense in Indië geëis en groot skade aangerig in verskeie dele van die land. Die Brahmaputra-rivier in die deelstaat Assam het afgekom en honderde dorpe is oorstroom. Byna 900-duisend inwoners moes reeds hul huise verlaat. Dodelike grondstortings in Himachal Pradesh het talle lewens geëis en belangrike toegangspaaie afgesny, wat reddingspogings bemoeilik. Nooddienswerkers en Weermaglede werk onverpoosd om voedsel en mediese hulp aan duisende gestrande gesinne te verskaf.
# Sokker: Die DA sê die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het duidelik iets om weg te steek nadat hy gister versuim het om voor die Parlement te verskyn. Hy was veronderstel om vrae te beantwoord oor die 31-miljoen-rand wat sy departement bestee het aan ‘n afvaardiging na die Wêreldbekertoernooi. McKenzie het die reis voorheen verdedig. Leah Potgieter van die DA sê dis onvergeeflik om die Parlement te vermy:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-427-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-207-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Water en Sanitasie vra Suid-Afrikaners om die 17-jarige Sikhulile Nkosi te ondersteun terwyl hy voorberei om die land later die maand in Stockholm, Swede, te verteenwoordig op die Junior Waterprys-geleentheid. Die graad 11-leerder van die Sekondêre Skool Sitintile in Mbombela, Mpumalanga, het die Suid-Afrikaanse Jeugwaterprys gewen vir die ontwikkeling van ‘n beskermende laag in plastiekhouers wat die uitlek van mikroplastiek- en chemiese besoedeling na drinkwater verminder. Wisane Mavasa van die departement sê die stemming vir die Publiek se keuse-toekenning sluit op 15 Augustus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….