Nuus 16:00
BULLETIN 21 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ATM dring aan op strafregtelike aanklagte oor instorting van gebou in George
# Die regering gaan in plattelandse slagpale belê om siektebeheer te bevorder te midde van die uitbreking van bek-en-klouseer
# En rugby: Die Junior Bokke se kaptein prys die senior Bokke se inspirasie vir hulle oorwinning in Rovigo
# Die African Transformation Movement sê diegene wat verantwoordelik was vir die instorting van die gebou in George in die Wes-Kaap moet strafregtelik vervolg word. Dit volg op ‘n verdoemende verslag waarin uitgewys word daar was nalatigheid, substandaard-boumateriaal is gebruik en veiligheidswaarskuwings is ignoreer. Dit het gelei tot die dood van 34 werkers. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die tragedie weerspieël die kultuur van straffeloosheid in die boubedryf, en vra dringende hervorming, strenger veiligheidswette en volledige ondersteuning vir die slagoffers se gesinne:
# Die regering beplan om in plattelandse slagpale en dieregesondheidsnavorsing te belê om siektebeheer te bevorder en die vee-ekonomie te versterk. Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het die aankondiging gedoen op die bek-en-klouseer-indaba in Roodeplaat, Pretoria, waar hy die verouderde reaksiestelsels en vertragings in entstofvervaardiging gekritiseer het. Hy sê die nuwe beleggings in plattelandse slagpale en voerkrale, veral in Limpopo, Mpumalanga, en KwaZulu-Natal, sal help om die onwettige beweging van vee te verminder en wetstoepassing te bevorder:
# Die Nasionale Tesourie is bekommerd oor die opmerkings deur die hoof van die Vloot, admiraal Monde Lobese, oor die begroting van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Lobese beweer dat die Tesourie die Weermag saboteer deur fondse terug te hou en sodoende die land se nasionale veiligheid in gevaar stel. Die Departement van Verdediging het 57,2-miljard rand vir 2025/26 ontvang. Die Tesourie sê die toewysing van hulpbronne binne die departement is die verantwoordelikheid van die rekeningkundige kantoor, en indien ‘n afdeling glo hy is onderbefonds, moet dit intern hanteer word.
# Rugby: Die kaptein van die Junior Springboke, Riley Norton, sê voorbereiding, speltyd, span- en nasionale ondersteuning was belangrike faktore in hul Wêreldrugby Onder-20-kampioenskaps-oorwinning in Italië. Suid-Afrika het Nieu-Seeland Saterdag in die eindstryd in Rovigo 23-15 geklop en daarmee hul tweede titel verower en ‘n wendroogte van 13-jaar beëindig. Norton het met die span se terugkeer die senior Springbokke geprys vir hulle inspirasie en sê rugby verenig Suid-Afrikaners. Hy is ook dankbaar vir die ondersteuners en hul trots in die sport:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-596-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-380-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-46-sent per vat.
# En laastens, ‘n nuwe wêreldwye studie het bevind daar is slegs drie jaar oor om uitstralings ingrypend te verminder en die ergste klimaatsveranderings-gevolge te vermy. Die jongste verslag van die Aanwysers oor Wêreldwye Klimaatsverandering onthul mensgemaakte verwarming het verlede jaar 1,36-grade Celsius bereik – gevaarlik naby die beperking van 1,5-grade van die Paryse Ooreenkoms. Slegs 25 nasies het voor COP30 inligting oor klimaatsplanne verskaf en kenners eis dringende optrede. Wetenskaplikes sê sonder onmiddellike, dapper wêreldwye verbintenisse sal daar binnekort nie meer tyd wees om onomkeerbare klimaatskade te voorkom nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….