Nuus 16:00
BULLETIN 9 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa wens die ervare regsgeleerde Navi Pillay geluk met haar Nobelprys vir Vrede vir 2026
# Die ANC-Jeugliga vra vir strenger toepassing van die immigrasiewette te midde van ‘n skerp toename in asielaansoeke
# En, die Amerikaanse president, Donald Trump sê daar sal geen aanval op Iran wees voor die middeltermynverkiesing nie
# President Cyril Ramaphosa het die Suid-Afrikaanse regsgeleerde Navi Pillay gelukgewens nadat sy die 2026 Nobelprys vir Vrede gewen het vir haar werk ter bevordering van vrede en internasionale reg. Ramaphosa sê die toekenning erken Pillay se moed, integriteit en lewenslange toewyding aan die beskerming van menseregte en die versekering dat oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord vervolg word. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê Pillay het anti-apartheidsaktiviste verdedig, insluitend wyle oudpresident Nelson Mandela.
# Die ANC-Jeugliga vra strenger toepassing van immigrasiewette terwyl die aantal buitelanders by Binnelandse Sake se kantore en vlugteling-sentrums skerp toeneem. Dit volg ná die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die verwerking van asiel-aansoeke. Die liga se woordvoerder, Sindiswa Scheepers, sê die beslissing moenie gebruik word as ‘n oorkoepelende amnestie vir mense wat onwettig in die land bly nie. Sy vra Binnelandse Sake, die Grensbestuursowerheid en die polisie om immigrasiebeheer te verskerp:
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, Jack Bloom, steun strafregtelike aanklagte teen die Stad Ekurhuleni en die Ekurhuleni-watersorgmaatskappy in Gauteng oor voortslepende rioolbesoedeling. Die aanklagte hou verband met die Hartebeestfontein-watersuiweringsaanleg en versuim om ʼn opdrag na te kom wat ingevolge die Nasionale Waterwet uitgereik is. Bloom sê behandelde water het tussen Januarie en September slegs 68-persent van die tyd aan die mikrobiologiese standaarde voldoen, en 61-persent van die tyd aan chemiese standaarde:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê Washington sal nie voor die middeltermynverkiesing nuwe aanvalle op Iran uitvoer nie. Hy sê gesprekke met Teheran is tans aan die gang en Amerika se blokkade van Iranse hawens sal van krag bly terwyl onderhandelings voortduur. Die oorlog het reeds energievoorrade ontwrig en brandstofpryse die hoogte in laat skiet. Die twee lande het voorstelle uitgeruil gemik op die beëindiging van die konflik en om die Straat van Hormoes, ‘n belangrike wêreldhandelsroete, te heropen. Trump het egter Iran se jongste voorstel verwerp.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Alexander Zverev, het Wu Yibing van China geklop om die derde ronde van die Shanghai Masters te bereik. Die eerstegekeurde speler het ‘n kortstondige skrik oor sy linkerenkel oorkom na hy tydens die tweede stel gegly het, en daarna die valbylpot gewen om die oorwinning te beklink. Zverev het sy teenstander se kragtige houe geprys en gesê sy eie afslaanwerk het hom deur die moeilike wedstryd gehelp. Hy kom nou teen Quentin Halys van Frankryk te staan in sy poging om ‘n derde titel die seisoen te verower.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-896-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-172-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 106-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….