Nuus 16:00
BULLETIN 7 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa plaas die kollig op wind- en sonkrag vir ekonomiese groei
# Stille Oseaan-lande vra sterker optrede om aardverwarming onder 1,5-grade te hou
# En rugby: Die Stormers se span is volgepak met Bokke vir die VRK-wedstryd teen die Haaie
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika moet sy wind- en sonkragbronne benut om energie-sekerheid te versterk en ekonomiese hervorming te bevorder. Hy het gepraat op Windaba 2026 in Kaapstad, met die tema “Implementing Watt Matters: Policy, Power, People”. Ramokgopa sê hernubare energie kan ekonomiese groei, werkskepping en industrialisering ondersteun. Hy het beklemtoon dat elektrisiteit ‘n sentrale rol moet speel om Suid-Afrika as ‘n nywerheidskragbron te posisioneer:
# Die sekerheids-ontleder Andy Mashaile sê die ontdekking van ‘n vermeende Mandrax-laboratorium ter waarde van miljoene rand naby die Hartbeespoortdam in Noordwes laat kommer ontstaan dat internasionale dwelmvervaardigers Suid-Afrika as ‘n toeganklike basis beskou. Die polisie het vier verdagtes in hegtenis geneem tydens gister se klopjag. Mashaile sê leemtes in die strafregstelsel skep ’n ruimte wat dwelmvervaardigers toelaat om ongehinderd op te tree. Hy vra die inhegtenisneming van die meesterbreine, strenger wette en strawwer gevolge in die stryd teen dwelms.
# Agri SA se uitvoerende hoof, Johan Kotzé, sê Suid-Afrikaanse boere verkeer onder toenemende finansiële druk weens bek-en-klouseer, stygende insetkoste, laer winsvlakke en die gevaar van El Niño-toestande. Hy het in ‘n onderhoud met Farmers Weekly sterker ontwikkelings-befondsing gevra vir boere wat nie toegang het tot tradisionele befondsing nie. Kotzé wil ook hê die regering en die landbousektor moet gesamentlik optree om plase lewensvatbaar te hou:
# Lande in die Stille Oseaan versoek die wêreld om pogings op te skerp om kweekhuis-gasuitstralings te verminder en aardverwarming tot onder 1,5-grade Celsius te beperk. Ministers van Klimaatsake vergader in Fidji en sê die streek ervaar reeds die gevolge van stygende seevlakke, uiterste weerstoestande en toenemende bedreigings vir gemeenskappe. Hul vra sterker verbintenisse voor die COP31-klimaatsberaad volgende maand in Turkye, insluitend meer beskerming van oseane. Die VN waarsku die wêreld sal na verwagting sy teiken van 1,5-grade in die komende jare oorskry, wat die gevaar van blywende omgewingskade en verdere stygings in seevlakke sal verhoog.
# Rugby: Die Stormers pak die Haaie met elf Springbokke in hul span in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd in Kaapstad. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson het sy terugkerende Bokke ingespan nadat hulle in die tweede ronde in Skotland teen Edinburgh verloor het. Agt internasionale spelers is in die opdrafspan en nog drie op die bank, terwyl die opkomende ster-slot Riley Norton en Haashim Pead, wat onlangs van die Leeus gewerf is, ook in die span is. Sacha Feinberg-Mngomezulu en Cobus Reinach is die skakelpaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-521-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-114-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….