Nuus 16:00
BULLETIN 2 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sibiya se regsverteenwoordiger betwis bewerings dat ‘n tiener gedwing is om intieme foto’s te neem
# Rugby: Kaartjies vir die Kaapstadse sewestoernooi is nou te koop teen voor-Covid-pryse
# En ‘n Japannese burgemeester wat kraamverlof geneem het, is op die TIME100 Next-lys aangewys
# Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, se regsverteenwoordiger, Amanda Nel, het aangevoer ‘n 16-jarige meisie is nie gedwing om intieme foto’s van haarself te neem nie. Nel het in die Randburgse Landdroshof in Gauteng gesê die meisie het die foto’s moontlik met ander mense gedeel voor dit in Sibiya se besit beland het. Ondersoekbeampte Nokukhanya Ndlovu sê ‘n digitale forensiese ondersoek sal bepaal of die foto’s met enigiemand anders gedeel is:
# Die vroueliga van Abahlali baseMjondolo vra ‘n onafhanklike Vroue-ombud vir wetstoepassing. Dit volg nadat die liggame van elf vroue die afgelope maande in Ekurhuleni, Gauteng, gevind is. Woordvoerder Snenhlanhla Mncanyana sê die ombud moet magte hê om polisiekantore te inspekteer, toegang hê tot rekords, en die reg hê om korrupsie en wangedrag te ondersoek. Sy sê vroue moet ook in staat wees om die ombud regstreeks te nader:
# Statistiek Suid-Afrika sê elektrisiteitsopwekking het in Augustus met 7,1-persent afgeneem. Kragverbruik het ook met 1,1-persent gedaal vergeleke met Augustus verlede jaar. Seisoensaangepaste elektrisiteitsopwekking het maandeliks met 0,2-persent afgeneem, terwyl kragverbruik met 0,3-persent toegeneem het. Woordvoerder Tsholofelo Ditinti sê elektrisiteitsopwekking het in die drie maande tot Augustus met 0,9-persent afgeneem, terwyl elektrisiteitsverbruik oor dieselfde tydperk met 0,3-persent toegeneem het:
# Rugby: Kaartjies is nou te koop vir die Kaapstadse Sewes-toernooi op 5 en 6 Desember. Die Blitsbokke, wat verlede seisoen die reeks- en die wêreldtitel gewen het, mik na ‘n derde opeenvolgende Kaapstadse titel. SA Rugby het kaartjiepryse in alle kategorieë met tussen 17- en 28-persent verlaag. Onbespreekte sitplekke op die tweede vlak van die Kaapstadse stadion kos 180-rand, terwyl die beste sitplekke 500-rand kos vir ‘n volle dag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-902-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-219-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-15-sent per vat.
# En ten slotte: Japan se eerste sittende burgemeester wat kraamverlof geneem het, is op TIME se TIME100 Next-lys van opkomende wêreldleiers aangewys. Die 36-jarige burgemeester van Yawata, Shoko Kawata, het in 2023 die jongste vroue-burgemeester in Japan geword. Sy het in Julie kraamverlof geneem en verlede maand geboorte geskenk aan haar eersteling-dogter. Kawata het haar pligte vir 16 weke aan haar adjunk oorgedra, terwyl sy afstandwerk gedoen het indien moontlik. Haar besluit het ‘n debat in Japan veroorsaak, waar geen wettige voorsiening gemaak word vir kraamverlof vir verkose burgemeesters nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….