Nuus 16:00
BULLETIN 12 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA se Team FixSA-kandidaat open ‘n strafsaak oor bende-dreigemente
# Eskom stel fase 3-beurtkrag in werking
# En rugby: Rassie Erasmus oorweeg dit om Kolisi as Bok-kaptein te vervang
# ActionSA se kandidaat vir Team FixSA, Dereleen James, het ‘n strafregtelike saak by die Eldoradopark-polisiestasie in Johannesburg aanhangig gemaak ná dreigemente deur ‘n bende, Fast Guns, wat in die gebied bedrywig is. James is gister as deel van Team FixSA aangewys om op dwelmmisbruik te fokus. Die party sê die dreigemente, wat op Fast Guns se Facebook-groep geplaas is, beskuldig James van bystand aan die polisie om ongelisensieerde vuurwapens op te spoor. Dit volg ná die onlangse dood van die aktivis, Ashwin McCabe, in Westbury.
# Meer as 60-persent van die land se staatsdepartemente loop deur onder kritiek oor vertraagde betalings aan verskaffers. Volgens die Staatsdienskommissie het slegs 17 uit 40 nasionale departemente in die tweede kwartaal van 2023/24 betyds aan die betalingsvereistes voldoen, ‘n effense verbetering vanaf die eerste kwartaal. Die kommissie se woordvoerder, Anele Gxoyiya, sê sommige van die redes vir die vertragings sluit in begrotingsbeperkings, geskille oor fakture, interne vermoënskwessies en laat magtiging:
# Eskom het aangekondig dat fase 3-beurtkrag van vanmiddag vieruur af tot môreoggend vyfuur van krag sal wees. Daarna sal fase 2 tot vieruur môremiddag in werking tree.
# Libanon se Irans-gesteunde Hizbollah-groep sê hy het vandag meer as 100 vuurpyle afgeskiet op Israelse militêre teikens, uit weerwraak vir ‘n aanval in die ooste van die land, waarin een persoon dood is. Hizbollah, ‘n bondgenoot van Hamas, en Israel skiet byna daagliks oorgrens op mekaar sedert die Gaza-oorlog in Oktober uitgebreek het. Verskeie Israelse aanvalle het onlangs Hizbollah-teikens verder noord getref, wat vrese laat ontstaan vir ‘n volwaardige konflik. Hizbollah sê in ‘n verklaring hy het meer as honderd vuurpyle op twee militêre basisse in die besette Golan-hoogland afgevuur.
# Rugby: Die Springbokke kry dalk ‘n nuwe kaptein. Die hoofafrigter, Rassie Erasmus, s, hoewel Siya Kolisi uitstekende rugby vir Racing 92 speel in Frankryk en vir vanjaar se toetse oorweeg sal word, sal hy van die ouer spelers uitfaseer in die opbou na die volgende Wêreldbekertoernooi. Agtien van die Bokke wat verlede jaar in Frankryk die Wêreldbeker gewen het, is ouer as 30, met Kolisi wat nou 32 is. Erasmus sê hy verkies ook dat sy kaptein in Suid-Afrika speel om beter interaksie moontlik te maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-26-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-173-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: Die KwaZulu-Natalse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake waarsku die publiek in noordelike streke oor ‘n vlak ses-voorspelling vir ontwrigtende reën môre. Daar is ‘n hoë risiko van oorstromings as gevolg van meer as 100-millimeter reënval wat verwag word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel moontlike oorstromings op paaie, brûe en in nedersettings, wat groot ontwrigting in verkeersvloei en noodsaaklike dienste sal veroorsaak. Die departement se woordvoerder, Siboniso Mngadi, sê rampspanne is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag. Hy raai gemeenskappe aan om skuiling te soek by aangewese plekke:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….