Nuus 16:00
BULLETIN 30 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshuma se pleit-en-vonnisonderhandelinge val vas
# Suid-Afrika en Frankryk versterk hul ekonomiese vennootskap
# En ‘n Flydubai-vlug word herlei na Saoedi-Arabië toe die vlieëniers handgemeen raak
# Die Johannesburgse Landdroshof het die Zimbabwies-Britse voortvlugtige, Ndodana Tshuma, se pleit en vonnisoplegging tot 21 Oktober uitgestel. Hy word aangekla van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, en onwettige toegang tot Suid-Afrika. Die staat en verdediging het tyd nodig om te onderhandel en landdros Sindisiwe Malindi sê verskille in die skuldigbevinding en vervolgingsdokumente moet reggestel word. Tshuma se uitleweringsverrigtinge is tot môre uitgestel. Hy word in Brittanje gesoek in verband met die moord op sy vrou en twee dogters.
# Suid-Afrika en Frankryk versterk hul ekonomiese samewerking en fokus op infrastruktuur, industrialisering en inklusiewe groei. Die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, sê Frankryk is Suid-Afrika se grootste regstreekse buitelandse belegger. Meer as 480 Franse maatskappye in die land bied werk aan meer as 65-duisend mense. Dertig Franse maatskappye het beleggingsverbintenisse van 20,7-miljard-rand aangekondig tydens vanjaar se Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie. Ramokgopa sê voorkeure sluit in werkskepping, armoedeverligting en versterkte staatsvermoë:
# COSATU veroordeel wat hy noem ‘n media-geleentheid wat die Amerikaanse ambassade gebruik het om ‘n bespotting te maak van Suid-Afrika se grondwetlike soewereniteit. Die vakbondfederasie se woordvoerder, Matthew Parks, sê vryheid van spraak en van die media word in Suid-Afrika se Grondwet beskerm, en behoort nie deur diplomatieke sendings misbruik te word om vals inligting te versprei nie. Hy sê diplomatieke sendings behoort internasionale norme en Suid-Afrika se soewereiniteit te respekteer:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Pitso Mosimane, sê hulle sal Eritreë nie ligtelik opneem in vanaand se tweede Afrikabeker-kwalifiseerder in Kaïro, Egipte, nie. Suid-Afrika het sy veldtog die afgelope naweek afgeskop deur Guineë 2-1 te klop, terwyl Eritreë met 1-elk gelykop gespeel het teen Kenia in die ander groep D-wedstryd. Mosimane het die Eritrese doelskieter Ali Suleiman, wat in Egipte gebaseer is, geïdentifiseer as die speler om dop te hou. Hy sê hy is vinnig en dodelik op vaste fasette, en kan vanuit enige hoek doele aanteken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-870-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-189-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-42-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Flydubai-vlug vanaf Dubai na Tel Aviv is herlei na Saoedi-Arabië nadat die vlieëniers blykbaar handgemeen geraak het. Die vlug het noodseine uitgestuur, waaronder een wat op moontlike onregmatige inmenging aan boord dui, voordat dit veilig in Tabuk geland het. Die vliegtuig het binne sowat 30 sekondes skielik bykans vier-duisend-200 meter in hoogte verloor. Die passasiers en bemanningslede is almal veilig. Israelse owerhede sê daar is geen aanduiding dat die voorval met ‘n kaping verband hou nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….