Nuus 16:00
BULLETIN 29 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verloor 14-duisend werksgeleenthede tussen Maart en Junie
# Rugby: Kolisi kan oorweeg word om Vrydag vir die Stormers uit te draf
# En ‘n voormalige TV-nuusleser van Uganda word tot koning gekroon ná ‘n opvolgingsgeskil
# Statistiek Suid-Afrika sê werksgeleenthede het tussen Maart en Junie met 14-duisend afgeneem, met vervaardiging, sakedienste, handel en die vervoersektor wat die grootste verliese toon. Indiensneming het met 95-duisend afgeneem vergeleke met Junie verlede jaar. Voltydse poste het met 40-duisend afgeneem, maar deeltydse poste het met 26-duisend toegeneem. Gemeenskapsdienste het die grootste toename aangeteken, met 29-duisend nuwe werksgeleenthede. Matlapane Masupye van Statistiek Suid-Afrika sê die gemiddelde maandelikse inkomste het met 4,1-persent gestyg:
# Die kabinet verwelkom ‘n belangrike ooreenkoms waarvolgens Suid-Afrikaanse kersieprodusente die eerste keer toegang kry tot die Chinese mark. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê dit maak deure oop na een van die wêreld se grootste kersiemarkte, wat verlede jaar alleen kersies ter waarde van meer as 52-miljard-rand ingevoer het. Sy sê die geskiedkundige markgeleentheid sal plaaslike landboubelegging en werkskepping waarskynlik aansienlik aanhelp:
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke sê ‘n nasionale dag van rou behoort oorweeg te word weens die onlangse reeks massamoorde. Agt-en-twintig mense het die afgelope naweek gesterf in skietvoorvalle in Gauteng en die Wes-Kaap. Die raad se hoofsekretaris, eerwaarde Mzwandile Molo, sê Suid-Afrikaners het ongevoelig geraak teenoor geweld en die waarde van menselewens het afgeneem. Hy sê die land ervaar die algehele erosie van sy morele waardes.
# Rugby: Springbok-kaptein Siya Kolisi het by die Stormers aangesluit na sy terugkeer van internasionale diens en kan oorweeg word vir Vrydag se Verenigde Rugby-kampioenskapswedstryd teen Edinburgh in Skotland. Hy keer terug nadat hy in 2021 by die Haaie aangesluit en die Franse span Racing 92 verteenwoordig het voor hy in 2024 na Durban teruggekeer het. Die Stormers, wat Connacht verlede week in hulle eerste wedstryd in Ierland geklop het, het Evan Roos en Marcel Theunissen verloor weens beserings en Kolisi is ‘n moontlike plaasvervanger. Die span word Donderdag aangekondig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-164-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-152-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-18-sent per vat.
# En ten slotte: ’n Voormalige televisie-nuusaanbieder is verkies tot koning van die Tooro-koninkryk in Uganda ná ’n opvolgingsgeskil na die dood van koning Oyo. Die 56-jarige koning Edward is deur ’n komitee van 21 lede van die koninklike Babiito-stam verkies. Oyo se moeder was egter teen die besluit gekant en beweer hy het ‘n onbekende seun wat in sy testament as erfgenaam aangewys is. Die koninklike stam sê egter hulle het niks van die kind geweet nie. Die koning van Tooro het geen politieke mag nie, maar beskik oor aansienlike kulturele invloed.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….