Nuus 16:00
BULLETIN 8 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die spertyd dreig vir politieke partye om die vereiste dokumente in te dien vir deelname aan die verkiesing
# Die Hooggeregshof lewer binnekort uitspraak oor Zuma se poging om Billy Downer te verwyder
# En krieket: Veertien paaltjies kantel op die eerste dag van die laaste toets tussen Nieu-Seeland en Australië
# Die sperdatum dreig vir politieke partye om vereiste dokumente in te dien om aan die algemene en provinsiale verkiesing te kan deelneem. Kandidatelyste moet teen vanmiddag vyfuur ingedien word. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sal na verwagting teen 18 Maart kennisgewings van nie-nakoming uitreik, met partye wat tot 20 Maart gegun word om enige kwessies reg te stel. Voorlopige kandidatelyste sal op 26 Maart ter insae gepubliseer word. Die OVK het 10 April vasgestel as die afsnydatum vir die samestelling van die lyste van partye en kandidate wat aan die verkiesing gaan deelneem.
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, sal op 20 Maart uitspraak lewer oor oudpresident Jacob Zuma se jongste poging om die aanklaer in sy wapentransaksie-korrupsiesaak, Billy Downer, te verwyder. Zuma het Downer van vooroordeel beskuldig, en voer aan hy sal nie ‘n regverdige verhoor kry as Downer die staat se saak teen hom lei nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag wys daarop dat Zuma se eise reeds herhaaldelik van die hand gewys is en sy optrede eintlik daarop gemik is om sy verhoor te vertraag.
# Die DA in Limpopo eis nouer samewerking tussen die Departemente van Onderwys en Vervoer vir meer veiligheid met die vervoer van leerders. Dié oproep volg nadat drie leerders gister gesterf het in ‘n ongeluk tussen Lebowakgomo en Burgersfort. Die party vra dat veiligheid en nakoming vir openbare én onafhanklike skoolvervoer-voertuie verseker moet word. Katlego Suzan Phala van die DA eis dat wetstoepassers hulle padveiligheidpogings verskerp om nóg tragedies te voorkom:
# Krieket: Altesaam 14 paaltjies het gekantel op die openingsdag van die tweede en laaste toets tussen Nieu-Seeland en Australië in Christchurch. Die gashere se ellende het voortgeduur toe hulle vir ‘n skamele 162 uitgeboul is. Josh Hazlewood het die meeste skade aangerig met vyf paaltjies, terwyl Mitchell Starc nog drie laat kantel het. Australië het ook nie te waffers gevaar nie, en die span was teen uitskeityd op net 124 vir die verlies van vier. Australië het die eerste toets met 172 lopies gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-519-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-167-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-44-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Gauteng se LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê die navorsingsentrum vir kerngeneeskunde by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria het die instelling tot ‘n klas van sy eie verhef in die veld van kerngeneeskunde en -navorsing in Afrika. Sy sê die sentrum het toekomsgerigte infrastruktuur wat die lewensgehalte en algemene oorlewing verbeter van kankerpasiënte wat radiofarmaseutiese middels gebruik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….