Nuus 16:00
BULLETIN 28 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryheidsfront Plus eis streng optrede teen AK-47-netwerke en onwettige mynwerkersbendes
# Rugby: Die Wallabies skuif op tot sesde op die wêreldranglys na hul oorwinning oor die Bokke
# En twee reusepandas kom by die Atlanta-dieretuin aan
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê as agt swaar gewapende aanvallers met AK-47s ‘n taverne kan binnestorm, 18 mense kan vermoor en 15 wond, beteken dit georganiseerde gewapende misdaad is buite beheer in dele van die provinsie. Woordvoerder Jaco Mulder verwelkom die eerste inhegtenisneming in Tzaneen, Limpopo, maar sê misdaadintelligensie moes die netwerk vroeër ontwrig het. Hy dring aan intelligensie moet versterk en bendes betrokke by onwettige mynbou uitgeroei word:
Alliance of Citizens for Change veroordeel intussen die naweek se dodelike massaskietvoorvalle in Gauteng en die Wes-Kaap. Tien mense is ook gisteroggend by ‘n taverne in Lwandle, Kaapstad, doodgeskiet. Die alliansie se woordvoerder, Masizole Mnqasela, sê die skietvoorvalle versterk hul pleidooi vir die herinstelling van die doodstraf:
# Die GOOD-party het Sarah Mabotsa se lidmaatskap beëindig en haar as ‘n raadslid van Tshwane verwyder. Mabotsa, wat as burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning gedien het, is onlangs aangekondig as Rise Mzansi se burgemeesterskandidaat vir die metro ingevolge ‘n samewerkingsraamwerk tussen die twee partye. Brett Herron van GOOD sê die besluit volg op oortredings van die party se grondwet. Hy sê hulle sal die Verkiesingskommissie en die stadsbestuurder inlig:
# Rugby: Die Wallabies het een posisie opgeskuif tot sesde op die wêreldranglys na gister se oorwinning oor die eerste-geplaaste Suid-Afrika in Perth. Australië sou Engeland ook verbygesteek het as hulle met 15 punte gewen het, maar vier geelkaarte in die laaste elf minute het hulle voorsprong van 42-17 laat krimp voor hulle 42-38 gewen het. Nieu-Seeland is steeds tweede, gevolg deur Ierland, Frankryk, Engeland, Australië, Skotland, Argentinië, Japan en Fidji. Die Wallabies, wat onoorwonne is in hulle laaste ses wedstryde, speel volgende maand twee Bledisloebeker-toetse teen die All Blacks.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-264-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-159-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 103-dollar-99-sent per vat.
# Twee reuse-pandas het by die Atlanta-dieretuin in Georgia, Amerika, aangekom as deel van ‘n nuwe bewarings- en navorsingsooreenkoms met China. Hulle is in die Chengdu-navorsingsbasis gebore. Die dieretuin het voorheen 25-jaar lank reuse-pandas gehuisves voordat sy ooreenkoms met China in 2024 verstryk het. Sewe welpies is tydens daardie vennootskap in Atlanta gebore voordat hulle na China teruggekeer het. Die jongste ooreenkoms sal panda-bewaring, -navorsing en -opvoeding ondersteun. Die diere sal ongeveer ‘n maand in kwarantyn deurbring voordat hulle aan die publiek vertoon word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….