Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Internasionale regskenner sê die verhouding tussen Suid-Afrika en Israel is meer gespanne
# Hamas se hoof sê ‘n wapenstilstandsooreenkoms met Israel kan waarskynlik binnekort gebeur
# En, krieket: Masood lei Pakistan in reeks van drie toetse in Australië
# Die internasionale regskenner, Patrick Kadima sê daar is ʼn tasbare gespanne dinamika tussen Suid-Afrika en Israel. Die spanning het toegeneem toe Israel sy ambassadeur vir raadpleging teruggeroep het, wat saamgeval het met Suid-Afrika se parlementêre stemming vandag oor die moontlike sluiting van die Israeliese ambassade. Boonop is Suid-Afrika die voorsitter van die buitengewone gesamentlike vergadering van BRICS oor Gaza, waar lede na verwagting ‘n gesamentlike verklaring oor die huidige situasie sal uitreik. Kadima het aan eNCA gesê die dringende BRICS-vergadering het moontlik bygedra tot die verhoogde diplomatieke spanning tussen Suid-Afrika en Israel:
Hamas se hoof sê intussen ‘n wapenstilstandsooreenkoms met Israel sal waarskynlik binnekort gebeur. Ismail Haniyeh se woordvoerder het aan Reuters gesê die militantegroep het sy antwoord aan Kataarse bemiddelaars gelewer, maar geen besonderhede verskaf nie. Volgens ander bronne is onderhandelings gesentreer rondom hoe lank die wapenstilstand sal duur, reëlings vir die lewering van hulp aan Gaza, en die uitruil van Israeliese gyselaars vir Palestynse gevangenes in Israel. Israel het dit tot dusver vermy om kommentaar te lewer oor die status van die samesprekings, behalwe ‘n ongeïdentifiseerde senior regeringsbron wat gesê het, ‘n deurbraak is naby.
# June Steenkamp sal nie Oscar Pistorius se aansoek om parool teenstaan nie wanneer die moordenaar van haar dogter Vrydag voor die Paroolraad van Korrektiewe Dienste verskyn. Die voormalige Paralimpiese kampioen het vroeër vanjaar om parool aansoek gedoen. Steenkamp het toe na Pretoria gereis vir die verhoor. Volgens haar regsverteenwoordiger, Tania Koen, sal ʼn prokureur hierdie keer haar slagoffer-impakverslag tydens die geleentheid voorlees. Pistorius het reeds meer as die helfte van sy vonnis van 13 jaar en vyf maande uitgedien vir die moord op sy vriendin in sy huis in 2013.
# Krieket: Shan Masood sal Pakistan in ‘n reeks van drie toetse in Australië aanvoer nadat Babar Azam na die Wêreldbeker-toernooi bedank het as kaptein in al drie formate. Die kampioen van 1992 het vyfde geëindig in die toernooi nadat hulle slegs vier van hul nege groepwedstryde gewen het. Dit het ook gelei tot die afdanking van spandirekteur, Mickey Arthur, en hoofafrigter, Grant Bradburn, met die voormalige kaptein, Mohammad Hafeez, wat in albei posisies waarneem. Die eerste toets begin op 14 Desember in Perth, die tweede een in Melbourne op die 26ste en die laaste een in Sydney op drie Januarie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-220-dollar-12-sent. Die prys van goud is een-duisend-988-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-12-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ‘n Verslag oor die toestand van kinders in die land het aan die lig gebring 4,8-miljoen Suid-Afrikaanse kinders ly honger. Die studie, wat deur die Nelson Mandela-stigting in samewerking met Deloitte Africa gedoen is, toon die hoogste koerse van multi-dimensionele armoede is in Limpopo, Gauteng en die Wes-Kaap. Die Nelson Mandela Kinderfonds se uitvoerende hoof, Linda Ncube-Nkomo, het gesê huishoudings met swart Afrikane aan die hoof en dié wat deur vroue gelei word, ervaar meer armoede. Ncube-Nkomo beklemtoon hoe belangrik dit is om billike toegang tot onderwys en werksgeleenthede te verseker om hierdie uitdagings aan te pak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….