Nuus 16:00
BULLETIN 4 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Artikel 27-verwysing is nooit in die Khumalo-saak verskaf nie
# ‘n Gesamentlike operasie ontwrig oorgrens-voertuigsmokkelary
# En rugby: Die All Blacks beskou die openingswedstryd teen die Stormers as ‘n volwaardige toets
# Die adjunkdirekteur van Openbare Vervolging in die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Peter Seruya, het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het nooit die Artikel 27-verwysing ontvang wat aanleiding gegee het tot die ondersoek na die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en sy medebeskuldigdes nie. Hy sê hy het die dokument herhaaldelik aangevra. Seruya sê ook die ontbrekende verwysing het ‘n probleem geword toe die beskuldigdes tydens hofverrigtinge verdere besonderhede versoek het:
# Die landbou-organisasie TLU SA verwelkom die uitbreiding van die Nywerheidskoördineringsraad wat ‘n belangrike rol speel in die regering se pogings om bek-en-klouseer te bestry. Twee nuwe lede is aangestel: die uitvoerende direkteur van die landbou-organisasie Saai, Theo de Jager, en die direkteur van die Veeartsnetwerk, Danie Odendaal. TLU SA se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê dis ʼn positiewe stap terwyl die land daaraan werk om die siekte te beveg:
# Twee Malawiese burgers en ‘n Suid-Afrikaanse man is in hegtenis geneem toe die polisie in Limpopo twee gesteelde Nissan Navaras ter waarde van altesaam 1,5-miljoen-rand geskut het in afsonderlike intelligensiegedrewe operasies teen oorgrens-voertuigsmokkelary. Die voertuie is in Gauteng gesteel en onderskep toe dit na die Beitbrug-grenspos geneem is. Provinsiale polisiekommissaris Jan Scheepers het die gesamentlike operasie geprys en sê dit toon die sukses van intelligensiegedrewe wetstoepassing.
# Rugby: Die All Blacks beskou Vrydag se eerste toerwedstryd teen die Stormers in Kaapstad as ‘n regte toets. Dit sal die eerste van vier wedstryde teen Suid-Afrika se Verenigde Rugbykampioenskap-spanne wees – die ander is in Durban teen die Haaie, in Pretoria teen die Bulle en in Johannesburg teen die Leeus. Nieu-Seeland en die Springbokke speel ook drie toetse in Suid-Afrika en ‘n vierde in Amerika. Agsteman Wallace Sititi beskou die Stormers se pak voorspelers as ‘n reuse-bedreiging wat hulle moet respekteer. Afskop is die aand sewe-uur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-728-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-67-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 85-dollar-60-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het die Suid-Afrikaanse span gelukgewens wat ‘n geskiedkundige vierde plek behaal het op die eerste Wêreld-spelkampioenskap in Sjanghai, China. Twee leerders het onder die wêreld se top-tien geëindig, terwyl al ses spanlede die kompetisie se voorlopige rondes suksesvol voltooi het. ‘n Leerder aan die Laerskool Klerksdorp in Noordwes,, Mbulelo Tolom, sê die prestasie wys dat Suid-Afrikaanse leerders met die wêreld se bestes kan meeding:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….