Nuus 16:00
BULLETIN 23 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matlala se vrou en medebeskuldigdes kry borgtog van 20-duisend-rand in ‘n bedrogsaak
# Baloyi bevraagteken Sindane se grondwetlike aansprake voor die Madlanga-kommissie
# En krieket: David Miller verbind hom tot die Proteas al het hy nie ‘n nasionale kontrak nie
# Die Pretoriase Landdroshof het die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se vrou, Tsakane, en haar medebeskuldigdes, Claudette Masethe en Given Makofane, 20-duisend-rand borgtog elk toegestaan in ‘n huurkontrak-bedrog- en korrupsiesaak. Cat Matlala bly intussen in aanhouding in die Kgosi Mampuru-gevangenis in dieselfde saak. Die beskuldigdes word aangekla van die gebruik van bedrieglike dokumente en vervalste bankstate om ‘n eiendom in Waterkloofrif, Pretoria, te huur. Die saak is tot 29 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek en sodat die verdediging die dossier kan ontvang.
# Kommissaris Sesi Baloyi van die Madlanga-kommissie sê die Mpumalanga-taxi-eienaar Oupa Sindane moes vrae beantwoord wat nie verband hou met sy strafsaak oor ‘n beweerde afpersingskema van twee-miljoen-rand nie. Sy regsverteenwoordigers vra meer tyd om vrae te identifiseer wat hy sonder benadeling kan beantwoord. Baloyi sê die redes vir sy afwesigheid word verswak deur sy versuim om te onderskei tussen vrae wat hy wel kon beantwoord en dié wat sy verhoor raak:
# ‘n Sakeman van Limpopo word van ernstige oortredings aangekla nadat hy vandag in die Landdroshof in Polokwane verskyn het. Die eienaar van die Limpopo-anti-dwelmsentrum, Tsebe Moloto, is uit op borgtog van 50-duisend-rand in ‘n saak van kwaadwillige saakbeskadiging. Die staat het aanklagte van brandstigting, betreding en vyf van poging tot moord bygevoeg. Moloto word daarvan beskuldig dat hy vlambare vloeistof oor sy voormalige meisie se voertuig uitgegooi en dit aan die brand gesteek het met mense binne-in. Die saak is tot 30 Oktober uitgestel vir ‘n vervolgings-beslissing.
# Die George-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering het ‘n GO GEORGE-proefroete tussen George se middestad en die stad se lughawe ingestel. Dit sal weekliks nuwe reiskeuses aan buspassasiers bied, insluitende mense wat op die lughawe werk. Die munisipaliteit se woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, sê roete 19 sal daagliks van 5-uur soggens tot 8-uur saans bedryf word. Hy sê busse sal in spitstyd ongeveer elke 22-minute vertrek, met die wagtyd tussen ritte buite spitstyd sowat 45-minute:
# Krieket: Die Protea-kolwer David Miller het sy verbintenis tot die nasionale span herbevestig, al is hy nie vir die 2026/27-seisoen gekontrakteer nie. Die 37-jarige is van Krieket Suid-Afrika se kontraklys verwyder nadat hy die afgelope jaar op ‘n tweeledige kontrak gespeel het wat bedoel is vir spelers wat in slegs een formaat speel of vir veteraanspelers. Miller sal môre teen Australië sy eerste eendagwedstryd vir Suid-Afrika speel sedert Maart verlede jaar. Sy doelwit is om gekies te word vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-520-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-308-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….